50 jaar ná Soweto 1976: In die Kaap, moenie vergeet nie, het onse kinders (ín Afrikaans) saam ge-struggle

Toe Soweto se skoolkinders op 16 Junie 1976 téén Afrikaans as onderrigtaal opgestaan het, het veral studente aan die Universiteit van Wes-Kaapland hulle ondersteun.

Waarom maak dit saak? Dié aspek word dikwels verswyg, skryf HEINDRICH WYNGAARD.

STANDPUNTE | 16.06.2026: “[E]n dit sal waarskynlik baie mense verras met watter insig die stryd van ‘Soweto 1976’ hier op die Kaapse Vlakte dikwels in Afrikaans gevoer is,” sê prof. Jakes Gerwel, voormalige rektor aan die Universiteit van Wes-Kaapland, op die agterblad van Cornelius C. Thomas se boek Wakker Wakker en aan die Brand – Waarneminge van ’n studente-aktivis, UWK, 1976.

  • In sy “Voorwoord” vir die boek, geskryf in Mei 1976, voeg prof. Hein Willemse by: “In studentetaal vertel [Thomas] van een generasie se dikwels kontradiktoriese proses van herdefiniëring en verruiming in die taal wat juis in 1976 so klinkend die simbool van mensverontregting geword het.”

Omdat ekself eers maar in 1973 gebore is, drie jaar voor “Soweto 1976”, is alles wat ek daaroor weet, dit wat ek gelees en gehoor het. My eie politieke ontwaking sou eers meer as ’n dekade later, sowat in 1989 en spesifiek 1990, geskied toe ek studenteleier by my alma mater Swartberg Sekondêre Skool op Caledon geword het.

  • ’n Plakkaat wat ek ’n skoolmeisie eens sien vashou het, bly my altyd by: “I wasn’t born yet, but today I know.”
  • Dit was ook nog altyd my benadering tot die geskiedenis van ons land en ons gemeenskappe: dat jy kan oplees daaroor, uitvra daaroor, om meer daarvan te wete te kom; dat jy dus nie hoef te gelewe het of dit beleef het om ‘’n waardering daarvoor of bewustheid daaroor te het nie.

Teen hierdie agtergrond berei ek toe voor vir ’n onderhoud wat RSG vanoggend met my oor die Soweto-opstande wou voer. Die temas wat ons sou dek, sou breedweg raak aan: Waarom dit belangrik is dat die rol van bruin jongmense ook erken en onthou word; wat daardie rol of bydrae was; of dit voldoende aandag in skole, die media en openbare gesprekke kry; wat vandag se uitdagings vir bruin jongmense is; en wat hul rol in die vorming van die land se toekoms behoort te wees?

Die notas wat ek vooraf gemaak het, word hieronder in VYF punte opgesom:

1. Oor bruin jongmense se aandeel in die “Soweto 1976-stryd” het ek reeds vir proff. Gerwel en Willemse aangehaal; ’n byvoeging is dat jong bruinmense as’t ware gesê het hulle gaan nie toelaat dat hul taal aan ander jongmense opgedwing word nie. Nie in ons naam nie; nie in ons taal nie.

2. Oor of dié bydrae voldoende aandag kry: Moontlik is die onderwysers wat vandag op skool die rol het om die geskiedenis van ons gemeenskappe aan die kinders bekend te stel self te jonk of te oningelig daaroor. Dit is dus ook ouers, gemeenskapsorganisasies en selfs die kerke se plig is om die geskiedenis aan die jonger generasie oor te dra.

3. Oor die media se rol: Bykomend tot die opvoedkundige aspek, is daar ook die bydrae wat die media kan maak deur, byvoorbeeld, publikasies, dokumentêre programme op radio en televisie en herdenkingsgeleenthede. Tans steek bruin geskiedenis in dié opsig sleg af by wat gedoen word om die rol van swart mense aan die struggle relevant te hou en ook die verhale van “grensvegters”, naamlik (wit) dienspligtiges se deelname aan die Grensoorlog.

4. Oor die bruin jeug se uitdagings vandag: Die gewone, bekende of voorspelbare uitdagings is werkloosheid, ’n gebrek aan toekomsgeleenthede en ook die afwesigheid by talle van ’n sin vir identiteit en selfwaarde.

5. Oor watse bydrae hulle tot die land se toekoms kan maak: Uiteindelik lê dié toekomsbydrae opgesluit in dit waaraan tans nog te min aandag gegee word. Dit is naamlik die wyse waarop bruin jongmense vir hulself werk en ander ekonomiese geleenthede kan skep – en ook hoe hulle self kapitaal kan vorm om hul sosio-ekonomiese situasie om te keer.

  • Die voorbeeld hiervoor word gestel deur die opvoedkundige sielkundige Quinton Adams, ook bekend as “The Shackbuilder”, en sy Backyard Academy, waardeur jongmense opgelei word om huisbouers te raak.
Leave a Reply