Wat het van gewete geword? Hierdie sielkundige sê almal moet saamspan om ons ‘tabula rasa’-kompas reg te stel

Wat dr. Gregory Allen Grootboom oor die aan- of afwesigheid van gewete in ons gemeenskappe aan die dink gesit het, was iemand se stelling dat kinders deesdae sonder ’n gewete gebore word.

Wat was sy reaksie daarop? “Ons word nie met ’n gewete gebore nie,” het hy gesê. “Ons wórd dit.” Moenie jou kop te veel daaroor krap nie. Hy verduidelik in die artikel hoekom hy so sê.

“Ons wêreld en sy mense het gewetenloos kom word,” sê die persoon ook aan my. Die persoon het begin met: “Ons kinders word deesdae sonder gewete gebore.”

Ek was vir ’n oomblik uit die veld geslaan, want die 18de eeuse filosoof Jean-Jacques Rousseau het dan eeue gelede gesê die mens is by geboorte tabula rasa – ’n skoon lei. Die ouers en samelewing skrywe daarop dat hulle die kind vanaf geboorte die waardes en norme van die samelewing sal leer om hulle só op te voed.

“Nee, ons word nie met ’n gewete gebore nie,” was my respons toe ek tot verhaal kom. “Ons bekom dit.” Fast forward gou deur ons samelewing om my reaksie te staaf:

  • Drie- en vierjariges sterf in bendegeweld (weens dwaalkoeëls) op die Kaapse Vlakte;
  • ’n Leerder word doodgesteek op die skoolgrond;
  • Onderwysers word in die personeelkamer deur bendes beroof;
  • ’n Kliniek word gesluit omdat pasiënte en verpleegsters onveilig is;
  • Elders word buitelanders toegang tot klinieke verhoed; en
  • Politici staan voor in die ry wanneer tenders vir mediese voorsiening toegeken word.

Dit is die tendens in Suid Afrika – tekens van ’n samelewing wat gewetenloos geword het. Ek vra daarom: “Het ons nog ’n gewete of het ons gewetenloos kom word?” Ons kan met reg verdere vrae stel: Waar het die ouers, die skool en die samelewing gefaal? En meer nog, waar het die gemeenskap gefaal of waar het ons die pot mis gesit? Ons sê immers, “It takes a village to raise a child.”

Die groot kommunis Lenin het die stelling gemaak dat as ’n kind teen die ouderdom van sewe nog nie ’n kommunis is nie, het hy nie ’n gewete nie, maar as hy teen ouderdom 21 nog steeds ’n kommunis is, het hy nie verstand nie. Het ons dalk beide verloor? Hierdie aanhaling spreek veral tot die gewete, omdat ons dit eerste aanleer.

Ek noem vier belangrike gewetensoordraers:

  • Eerstens: Die ouers se verantwoordelikheid is om die kind die basiese van reg en verkeerd te leer. Dit is dalk hier waar die kaarte alreeds verkeerd val, want wat die ouer as reg of verkeerd sien, is dalk nie wat deur die breër samelewing as sulks geprojekteer word nie. Dit is al by hierdie punt waar die morele waardes skeefgetrek kan word.
  • Tweedens: Waar staan die skool, of onderwys, in hierdie akker? Wat word die kind geleer oor wat reg of verkeerd is? Die skool se fokus is akademies en te administratief, sou ek dink, om aandag te gee aan morele lesse.
  • Derdens: Die samelewing – die staat sê ons is almal gelyk volgens die grondwet. Maar wat sien die kind, die bruin kind om spesifiek te wees? Die samelewing is vir hulle ’n ander werklikheid. Hulle sien en ervaar dit nie so nie – en jy kan nie vir ’n kind lieg nie. Sy evaluering van reg en verkeerd en morele waardes kry hier ’n ernstige knou en bots met die ouers se lering, vandaar die weerstand wat lei tot “anti-establishment”-optredes.
  • Vierdens: Persoonlike ervarings van en met gangsters en politici – almal van hulle doen wat hulle wil, sónder gewete. Die medemenslikheid (ubuntu) wat oupa en ouma voorgehou het, is lankal verlore.

Te midde van hierdie gewetenloosheid vra ek: Wie dra dan die morele kompas? Na wie kan ons onsself wend om ons te rig of rigting aan te dui, want almal het, aldus die Bybel, liefhebbers van hulself kom word.

Na wie luister ons of, liewer, wie is “gehoor” waardig as morele kompas? Ek wil een of twee antwoorde waag:

  1. My pleidooi is om tot die kerk as morele kompas te appelleer. Ja, ewigheidsvoorbereiding is die kerk se kardinale rol, maar bring ook die moraliteit soos vervat in die Christelike leer prakties tot die kind in samewerking met die ouer.
  2. Tweedens, die skrywer of liewer die kunstenaar, moet nooit ophou om tot die gewete van die samelewing te spreek nie. Die kunstenaars is nog van die min wat die “luister” waardig is. Ons moet dalk net die platform breër maak om meer jong mense te betrek om die waarheid en moraliteit deur die kunste te leer.

Ten slotte dan: Dalk word die gewete, waar die ouers, skool of samelewing te kort skiet, deur die kunste hergebore.

  • Dr. Gregory Allen Grootboom is ’n sielkundige van die Suid-Kaap.
Leave a Reply