TWK hanna-hanna oor Wilfred Solomons-Johannes se saak. Waaroor is hy dan wéér op pad hof toe?
’n Vergadering wat vandag sou plaasvind om te besluit of die Theewaterskloof-raad ’n hofaansoek deur dié omstrede direkteur van gemeenskapsdienste gaan teenstaan, is uitgestel.
Waaroor gaan dit? Solomons-Johannes beweer TWK het nie die korrekte prosedure gevolg met sy dissiplinêre verhoor nie. Blykbaar was daar vroeër kontak tussen die raad en die voorsittende beampte.
23.02.2026 | NUUSMAKERS: Die Theewaterskloof-munisipaliteit se direkteur van gemeenskapsdienste, Wilfred Solomons-Johannes, moet glo hierdie Woensdag in die plaaslike landdroshof verskyn.
- Na wat verneem word, spruit die klag uit die onlangse voorval waarin hy na bewering deur ’n kollega aangeval is.
Dié kollega is mnr. Paul Mabhena, finansiële hoof by TWK, wat reeds vroeër in verband met die voorval in die hof verskyn het. Na verneem word, was mnr. Mabhena se regsverteenwoordiger ontsteld omdat mnr. Solomons-Johannes toe nog nie aangekla was op die klag van crimen injuria wat mnr. Mabhena terselfdertyd teen hom aanhangig gemaak het nie.
- Solomons-Johannes het homself toe by die plaaslike speurtak gaan aanmeld en sy eerste hofverskyning is vir komende Woensdag geskeduleer, word Mondstuk Media deur bronne meegedeel.
Die vraag op almal se lippe was nog heeltyd wat presies aanleiding gegee het tot mnr. Mabhena se beweerde aanval op mnr. Solomons-Johannes. Nou word Mondstuk Media ingelig dat dit glo met die gebruik van haatspraak te doen kon hê. ’n Antwoord op die vraag behoort tydens mnr. Solomons-Johannes se verwagte hofverskyning duidelik te word.
Wat vandag se spesiale raadsvergadering betref, sou besluit word of mnr. Solomons-Johannes se aansoek teengestaan of toegelaat gaan word dat die voorsittende beampte van sy dissiplinêre verhoor verwyder moet word. Dié aansoek het blykbaar daarmee te doen dat senior ampsdraers van die TWK-raad, soos die uitvoerende burgemeester, Lincoln de Bruyn, geruime tyd gelede met die voorsittende beampte, oor die saak sou ontmoet het.
- Die dissiplinêre verhoor hou verband met die beweerde wanbesteding van munisipale fondse op ’n wyse wat strydig met munisipale regulasies is gedurende die tydperk toe mnr. Solomons-Johannes die rekenpligte beampte was.
- Dit is al telkemale uitgestel, die laaste keer weens mnr. Solomons-Johannes se siekteverlof ná die beweerde Mabhena-aanval.
- Na verneem word, het die munisipale bestuurder, mnr. Walter Hendricks, reeds aan die Arbeidshof geskryf dat TWK die Solomons-Johannes-aansoek gaan teenstaan.
Die TWK-raad het egter vandag besluit hulle gaan nogtans voort om die saak op ’n vergadering van 4 Maart te bespreek. Die verwagting is dat die kwessie in elk geval ook komende Vrydag op ’n geskeduleerde raadsvergadering geopper sal word.
