‘Swart Maandag’: Op 1 Desember moet almal in swart geklee wees om die wêreld bewus te maak van die Kaap se bendegeweld, het Gayton nou die dag gesê. Watter kleur het jy aan?

HEINDRICH WYNGAARD skryf oor die dag wat in Suid-Afrika meermale geassosieer word met Wêreld Vigsdag, maar dat nie genoeg mense weet dat 1 Desember ook die vrystellingsdatum van die slawe is nie, ’n rou deel van ons land se geskiedenis. Hieroor word ’n konferensie by UWK gehou vandag.

Hoekom noem Mondstuk Media dit ‘Swart Maandag’? Omdat bendegeweld, armoede en “nwata gedagtes” (verkeerde denkwyses en onkunde) ons in “slawerny” hou. Politiek en politici speel hierin ’n slegte rol.

Politici kan ’n mens partykeer met ’n kwai gedagte oor die kop slaan.

  • Okei, laat ek vertaal: Hulle kry dit dikwels reg om jou met ’n indrukwekkende stelling of voorstel opgewonde te maak (of is dit slegs ’n manier om jou om die bos te lei?); dan kom daar agterna niks daarvan nie.

Só was dit vir my persoonlik nogal goed om te hoor toe mnr. Gayton McKenzie, as leier van die PA, onlangs in sy onderhoud met Mondstuk Media ’n idee oor bewusmaking teen die Kaapse bendegeweld met ons deel. Die idee was dat, soos hy dit gestel het, “dat elke bruinman, elke swartman en elke Indiër en witman, wat voel [die geweld] is verkeerd, moet op die 1ste Desember swart aanhet”.

Ah, het ek gedink: dit kan nogal iets wees.

  • Ter motivering van sy voorstel het hy vooraf gesê: “Op die 1ste Desember bring ons hierdie land en die wêreld se aandag na hierdie [bende]moorde toe. Die wêreld ken van die plaasmoorde, die wêreld ken van die Palestyne wat doodgaan, maar die wêreld ken nie van die bruin mense wat so doodgeskiet word nie.”

Die 1ste Desember, het ons nou al gewoond geraak, word gewoonlik gebruik om die publieke aandag te lok na Wêreld Vigsdag-byeenkomste. Dit is belangrik, want Suid-Afrika is die land wat die ergste met nuwe infeksies getref word. Ons moet mense heeltyd bewus hou van die vernietigende effek van MIV/vigs.

Maar dit pla my persoonlik al lankal dat ons regering – en spesifiek ook die Wes-Kaapse regering, waar die kwessie tog meer relevant is – afgeskeep-aandag op dié datum gee aan die (voortdurende) effek van slawerny op gemeenskappe wat daaruit voortgebring is.

  • Dit is gemeenskappe wat jy op die bendegeteisterde Kaapse Vlakte vind en ook in die buurte van plattelandse dorpe wat onder sosio-ekonomiese uitdagings, soos armoede, werkloosheid, tienerswangerskappe, lae geskooldheid en hoë tronkinname, gebuk gaan.

Hieraan gekoppel is wat ons in die inleiding die ondergang weens “nwata gedagtes” of verkeerde denkwyses noem. “Nwata” is die antoniem van “nxa!” wat iets goeds of bewonderenswaardig aandui. Ons kan voorbeelde daarvan vind in die idee by sommige mense dat dit altyd maar die regering of politici is wat dinge vir hulle moet regmaak – eerder as dat hulle kyk na wat die staf in hulle eie hande is, wat hulle talente of aanleg is, en iets daarmee probeer doen.

  • ’n Ander “nwata gedagte” is om niks vrywilliglik te wil doen om ’n verskil in eie gemeenskap te maak nie, maar om altyd betaling (geld) daarvoor te verwag, terwyl die betrokkenheid by ’n projek iemand met nuwe kennis, blootstelling en vaardigheid kon bemagtig wat op die lange duur van groter waarde sou kon wees.

Dit is goed om te weet dat daar mense is wat wel ernstig is oor die kwessies van die dag wat die gemeenskappe aan bande lê, daar waar ’n party soos die PA aansienlike steun geniet.

  • In die Brian O’Connell Lewenswetenskappe-ouditorium vandag word die Jaap Durand-seminaar en -jaarlikse lesing aan die slawe en inheemsheid gewy, onder die titel “Indigeneity, Slavery, and Nation”.

Onder die sprekers is dr. Willa Boezak, Khoisan-navorser en teoloog, wat praat oor “Khoi-San Indigeneity” – en hier wil ek graag noem, as jy dit nog nie gehoor het nie, dat dr. Boezak die een is wat ons leer om te praat van “slaafgemaakte mense” eerder as net “slawe”. Dit beklemtoon twee belangrike aspekte wat deur die geskiedenis onderskat word: die “slawe” was – allereers – mense; en, tweedens, was dit nie asof hulle vryelik ingestem het om slawe te word, soos iemand wat vir werk aansoek doen nie. Hulle is gevange geneem en daar is slawe van hulle gemaak – snap jy, dus, “slaafgemaaktes”?

“The place of slavery in national identity”, sal deur eerw. Michael Weeder gehanteer word; politieke kommentator Tessa Dooms, medeskrywer van die boek Coloured – How Classification Became a Culture, praat oor “Reclaiming the power to name not shame”; en Patric Tariq Mellet, skrywer van The Lie of 1652 en meer onlangs The truth about Cape slavery, lewer die Jaap Durand-lesing met die titel: “Restorative Memory in the crafting of Restorative Justice contextual to Indigeneity and Slavery.”

Dit is swaar onderwerpe, toegegee, maar dit dui op die erns waarmee die organiseerders, sprekers en navorsers – en ook dié van ons wat net gaan sit om na hulle te luister en van hulle te leer – die saak behartig.

Hulle is nie politici wat net goedsmoeds uitsprake maak en weinig rekenskap daarvoor hoef te gee nie. Hulle insette moet op feite gebaseer wees; hulle kan nie duimsuig nie. Ons het meer daarvan nodig, anders gaan ons vir baie lank nog “swart Maandae” het, waar ons gekonfronteer word met alles wat verkeerd gaan in ons samelewing, spesifiek in bruin gemeenskappe, en wat gewoonlik Maandagoggende in hofselle ontbloot word: ’n moord, ’n verkragting, gevang vir dwelmhandel, gevang vir diefstal.

Dit het in vele opsigte te doen met die “mental slavery” waaroor Bob Marley in “Redemption Song” sing, slawerny in ons denkwyses en die verkeerde dinge wat ons doen, dat dinge rondom ons lyk soos wat dit lyk. Ons dra dan nie eens meer altyd swart klere by begrafnisse nie.

 

Leave a Reply