‘Stop die prosesse’: Boland-rugby wil nou klubs keer om manne te koop. Het die unie nie miskien die bus verpas nie?

Boland-rugby se hoofkantoor in Wellington het Donderdag wakker geskrik en tot hul verbasing agterkom dis nog Krismis hier buite vir Groot Uitdaag-klubs wat dit kan bekostig. Soos Universals van Stanford wat vir Marco Jones van Robertson Town gelok het.

En nou? Die unie het ’n pleitbrief aan voorsitters gestuur “i/s vergoeding/betaling van spelers”, terwyl klubs se gekontrakteerde spelers al weke lank op sosiale media verwelkom word. Die brief is moontlik ook strydig met Wêreldrugby se voorskrifte.

 

19.01.2026 | SPORT: Amateur-klubrugby in die Boland, soos ons dit in die ou dae geken het, is eintlik al seisoene gelede dood, maar dit lyk of almal te bang was om dit te sê. Selfs Boland se brief, uitgestuur deur mnr. Kobus Vergotine, waarnemende algemene bestuurder, klink onseker oor hoe die situasie gehanteer moet word:

  • Dit begin só: “Geliewe kennis te neem dat dit onder die Boland Rugbyunie se aandag gekom het, dat sommige klubs, spelers kontrakteur wat indruis teen Amateur Rugby in die Boland.”
  • Die tweede sin lui: “Ons versoek dus graag om met die prosesse te stop om sodoende Amateur Rugby te bevorder.”
  • Die derde sin: “Nogmaals baie dankie vir u samewerking in hierdie verband.”

Nou wat nou? vra klubvoorsitters en afrigters wie deur Mondstuk Media vir kommentaar genader is. Ons het onderneem dat ons nie hul name sal noem of hul klubs sal identifiseer nie. Ons weet wel dat Caledon Rugbyklub hieroor aan Boland geskryf het, maar of die unie al geantwoord het, is onseker. Rugby-administrateurs wys ook daarop dat die Boland-skrywe dalk strydig is met World Rugby se regulasie 4 wat bepaal dat spelers wel “material benefit” mag ontvang.

Wat almal, behalwe Boland, skyn te weet, is dat die “aankope” van spelers al gevestig is in die unie se Groot Uitdaagkompetisie. Dit gaan in die meeste gevalle gepaard met die aanstelling van nuwe afrigters.

  • Coaches soek astronomiese bedrae, want tyd is geld,” sê ’n afrigter in die Breë Langeberg, wat nie betaal word nie. “Selfs spelers maak al groter demands.”

Tot onlangs was die “vergoeding/betaling” slegs in die vorm van geld vir petrol, byvoorbeeld, maar wedstrydfooie was ook nie ver agter in die lyn nie. Nou word ’n spelerskontrak op Grabouw-rugbyklub se briefhoof rondgestuur, waarin ’n speler ’n “monthly stipend” of toelaag van R8 000 en ’n weeklikse wedstrydfooi van R2 000 aangebied word.

  • ’n Buurklub van die “G-boys” beweer teenoor Mondstuk Media dat van hulle spelers glo R20 000 aangebied is om daar te kom speel.
  • Dit is ook aan Mondstuk Media bekend gemaak dat Safcol, byvoorbeeld, in die meeste gevalle aan gekontrakteerde spelers ’n werksgeleentheid aanbied. “Niemand [kry] op dié stadium meer as R15k ’n maand nie,” is gesê.

Wat die wenkbroue laat lig, is dat Boland se president, mnr. Bennie van Rooi, die afgelope Vrydag besoek aan Grabouw RFC gebring het. Die klub, wat meen hulle word op sosiale media uitgesonder of geteiken oor die spelers wat hulle gekontrakteer het, het ’n foto op Facebook geplaas met die byskrif “Pres is Binne”. Saam met hom staan die klubvoorsitter, mnr. Hilton Moitse, en ondervoorsitter, Abraham Moitse.

Sover dit afrigters betref, is coach Herschelle van Aswegen, wat Botrivier verlede jaar tot Overberg-ligakampioene én die Top 12 gebrei het, glo R5 000 per week én petrolgeld deur die klub betaal.

  • Die vorige seisoen het hy ook groot sukses met Caledon behaal, maar moes daar net met petrolgeld tevrede wees.
  • Wat hy tans by Grabouw kry, is blykbaar in dieselfde omgewing van sy vorige kontrak by #BotlaFire.
  • En waar “coach Hersh” gaan, weet die Bolandse rugbyvolk, neem hy ook spelers saam.

“Boland Transfers New”: Dié nuwe Facebook-blad maak die afgelope ruk heeltyd plasings oor spelers wat na nuwe klubs skuif. Meeste van die “transfers” – sonder dat die inligting amptelik nagegaan is – is na Grabouw en Safcol.

  • Boland het ook pas ’n “Important Notice!” oor dié blad op sy eie Facebook-blad geplaas dat die unie “distances itself and does not have any association or affiliation with the Facebook profile (…)”.
  • Die plasing lui verder dat “the use of the official Boland Rugby Union” – hulle bedoel seker “logo” – word sonder toestemming gebruik.
  • Geen vermelding word gemaak oor moontlike optrede teen die blad nie. Nou word gespekuleer dit is dalk weens die plasings op dié blad dat Boland besluit het om die brief aan klubs te rig.

“Tegnies, ja, is ons amateurs,” sê ’n afrigter van ’n Top 12-kampioenspan. “Maar nou het die praktyk om formele kontrakte en vennootskappe met spelers te sluit, beslis te ver gegaan.”

Die afrigter vra wat almal – ná Boland se brief – oor wonder: “Gaan hulle dit kan bekamp?” Die antwoord is: Hoogs onwaarskynlik, want daar is baie maniere waarop klubs die “vergoeding/betaling”, soos dit in mnr. Vergotine se brief genoem word, kan versteek – en in baie gevalle word die betaling regstreeks deur klubborge gehanteer.

Plaaslike ondersteuners van dorpspanne het spesifiek die afgelope sowat drie seisoene gereeld op sosiale media gekla dat hulle omtrent nie meer hul klubs se eerstespan-manne ken nie weens die sterk verteenwoordiging van “inkommers”. Die dorp se talent word hierdeur agteruit geskuif, kla hulle.

Maar die gebruik van spelers aankoop, word verdedig deur voorstanders daarvan: “Huidiglik is Boland se klubs ver agter die res van die land se premierklubs,” sê ’n afrigter in die Overberg. “Om te sê spelers moenie vergoed word nie, is eintlik ’n klap in die gesig van klubs wat in die welstand van spelers belê wat letterlik hul lewe op die spel sit elke keer as hulle op die veld draf.”

Dié afrigter vra ook hoedat daar van Boland se topklubs verwag kan word om, byvoorbeeld, kompeterend aan SA Rugby se nasionale Gold Cup-kompetisie deel te neem as hulle nie die beste talent kan aankoop nie. In dié kompetisie is van die opponente uit die Noorde klubs soos die Naka-Bulle, waarin die Blou Bulle-unie derduisende rande belê.

Werkloosheid: Nóg ’n hoëprofiel-afrigter maak ’n belangrike punt oor waarom vergoeding vir spelers aanvaar moet word: “In ’n tyd waar die werkloosheidsyfer in die land [so] hoog is,” sê hy, “gee dit vir rugbyspelers die kans om deur hul talent melk en brood op die tafel te sit.”

 

Leave a Reply