PLAKKATE & KANDIDATE: Wat sit agter die politieke rondlopery van pastor Curt? Ons wag vir ’n openbaring

19.01.2026 | POLITIEK: Halfpad deur Januarie en die politieke danspassies het begin. Ons sal nog heelwat daarvan sien voor die munisipale verkiesing later vanjaar, waarskynlik in November, gehou word.

Waarom is dit belangrik? Past. Curt van Heerden (links), wat nou vanaf die PPM na Marius Fransman (regs) se PMC oorgeloop het, het gesweer die nuutgestigte PPM is die heilige waarheid vir voorspoed vir ons mense.

Mondstuk Media se spesiale fokus op die verkiesing, getiteld “Plakkate & Kandidate”, begin vandag. Ons inhoudshoof, Heindrich Wyngaard, vat voor met stories oor wat partye se plakkate belowe en ook oor die kandidate wat op daardie plakkate vertoon word.

  • Menings van kenners en die wense en bekommernisse van gemeenskappe is ook op die agenda.
  • Soms sal die stories aangevul word met video-onderhoude; soms sal die verkiesingsfokus net ’n samevatting van die week se verkiesingsnuus wees.

Ons eerste storie is dié oor ’n nuwe aanwins vir die People’s Movement for Change, gelei deur mnr. Marius Fransman, wat sy politieke opvoeding ontvang en sy opgang gemaak het in die ANC. Ook sy vroeëre politieke ondergang was in die swart, groen en goud-kleure van die eertydse bevrydingsbeweging. Dié stukkie is nou al ou nuus, want hy het sedertdien vir sy eie politieke terugkeer gesorg toe hy die PMC begin het.

Die party se nuutste aanwins is ’n politieke nuweling (in die watter gewig-afdeling?), naamlik past. Curt van Heerden van Gauteng, beter bekend as bediener van die Woord en teendwelmaktivis.

  • Mondstuk Media het verlede jaar oor hom geskryf toe hy en mnr. Chad Louw, ANC-burgemeester op Oudtshoorn ná die 2021-verkiesing, hul eie nuwe party gestig het.
  • Hulle het besluit om dit die People’s Prosperity Movement te noem – en mnr. Fransman het nie gedink dit is snaaks nie omdat die naam darem net te veel na sy party s’n klink, het hy toe aan Mondstuk Media gesê. Jy kan dit hier lees.

In Mondstuk Media se oor word gefluister dat die PPM gehoop het op ’n samewerkingsooreenkoms met die PMC, maar dat die PMC niks daarvan wou weet nie. Die PPM moes eerder deel raak van die PMC. Toe dié gedagte ook nie die paal haal nie, het mnr. Fransman glo “goud, wierook en mirre” aan past. Curt van Eldos uitgehou.

En as ’n mens moet kies tussen die gesukkel om befondsing vir ’n nuwe party te vind en die onderneming van geld en geleenthede wat jou aangebied word deur ’n politieke entrepreneur, is dit vanselfsprekend watter T-hemp die Godsman sou aantrek.

  • Curt se nuwe baas, mnr. Fransman, het immers vir homself goeie kontakte en netwerke (internasionaal) opgebou as onder andere ’n voormalige adjunkminister van buitelandse sake en Wes-Kaapse LUR.
  • Nou druk hy sommer sy vingers ook in plaaslike pasteie, soos media-geleenthede in die Boland-rugby-unie.

Dit is die politieke polis wat ’n “influencer” soos past. Curt soek, iemand wat sy gewildheid te danke het aan dramatiese video’s waarin hy dwelmverslaafdes en slagoffers van mishandeling – hallelujah, want dit is goed – uit die hande van die duiwel red.

Om ’n kandidaat vir ’n party in ’n verkiesing te wees, stel egter strawwe eise, herinner die oudpolitikus dr. Lennit Max my altyd. Die belangrikste is dat jy dikwels ook uit jou eie sak geld op die party se veldtog moet bestee; jou eie brandstof betaal; en ure se deur-tot-deur-stemwerwing moet insit. En dan is daar boonop nog die binnepolitiek van elke party, soos wat nou in die DA tot uitbarsting gekom het.

’n Mens weet nie watse politieke of verkiesingservaring die pastoor na die PMC bring nie – net dat hy al voorheen lid van die PA en glo Action SA ook was; en dat hy mnr. Louw en ’n klomp ander mense laat glo het dat hy die PPM nie sou verlaat nie.

  • Maar Curt van Heerden se oorlopery na die PMC is ook darem nie gestroop van waarde nie – dit lyk goed vir mnr. Fransman en ook vir die PMC.
  • Soos ook die aansluiting van ’n ander politieke rondloper, Sammy Claassen, vir die PMC goeie blootstelling verseker het; en ook die aansluiting van Angela Sobey, wat Action SA se premierskandidaat in die Wes-Kaap was in 2024 se algemene verkiesing.

Wat het dit hulle gebaat? Mnr. Claassen is nou kuierleier by die Patriotic Alliance; me. Sobey is polities nowhere to be found. Past. Curt moet maar biddend bly.

Leave a Reply