Past. Jerimia Thuynsma, wat die Kaapse ANC-volk nou lei, het die waarheid lief. Hy sê: ‘Jou Kleurlingvolk moet kan voel hulle is die eerste nasie en word so getreat in die land.’
Noudat ambassadeur Ebrahim Rasool die ANC onterf het, is past. Jerimia Thuynsma van Mitchells Plain geroep om die Wes-Kaapse ANC verby comrade-koppeslanery na beter dae te lei.
Wat is die verskil tussen die twee? Past. Thuynsma maak dit minder oor homself en hy draai nie doekies om oor hoe bruin mense deesdae oor die ANC voel nie. Sing vir hom ’n hallelujah-lied.
Past. Jerimia Thuynsma was besig om voor te berei vir ’n bestuursvergadering by die Mitchells Plain Advice office, waar hy lank al werk, doenig met skoleprogramme en die gewone advieskantoor-dinge, toe hy verlede Maandag die oproep kry. “My broer, ek bel jou om te hoor of jy beskikbaar is om ons organisasie [in die Wes-Kaap] te lei,” het mnr. Fikile Mbalula, sekretaris-generaal van die ANC, gesê.
- Oud-ambassadeur Ebrahim Rasool het net voor daai die rol as sameroeper van die ANC se taakspan, wat sy Wes-Kaapse huis in orde moet kry, van die hand gewys. ’n Ander sameroeper moes gevind word.
- Thuynsma was verbaas dat hy gevra word, maar hy was gereed. Hy is reeds sedert 1990 ’n ANC-lid, was al lid van ’n vorige provinsiale bestuur en daarom, sê hy, het hy “ ’n sense van waar die organisasie is en moet wees”.
Waar is die organisasie? Die grootste uitdaging, meen past. Thuynsma, is die “binnegevegte”. Dit veroorsaak dat die ANC in die Kaap se aandag meer op homself is as op die mense wat gehelp moet word. “Ons moet hoop gee aan die mense wat voel hulle word afgeskryf,” sê hy. En die man van die Here het die waarheid lief: “Jou Kleurlingvolk moet kan voel hulle is die eerste nasie en word so getreat in die land.”
Waar moet die organisasie wees? Tussen twee mure: te veel fokus op homself eerder as om sy geloofwaardigheid terug te wen. “Maak jouself credible,” is sy raad aan die beweging en sy mede-kamerade, “sodat jy weer ’n faktor kan is.”
In Mondstuk Media se onlangse onderhoud met me. Meleney Tembo, taakspanlid, het die kwessie van bruin kiesers se gevoel van gemarginaliseerdheid ook ter sprake gekom. Haar respons was dat dit meer waarskynlik is oor die wyse waarop die DA die provinsie bestuur.
Die gevoel van marginalisering onder bruin mense is geregverdig, sê past. Thuynsma: “Ja, die mense se gevoel is justified. Ek woon in Mitchells Plain, die grootste Kleurling-area, en die mense voel hulle word nie gesien nie – jongmense gaan hier dood soos vlieë en dit word nie as ‘’n emergency verklaar nie. Maar môre-oggend staan ek op en vyf mense is dood in Nyanga en dan is dit op die TV.”
Mondstuk Media wou by past. Thuynsma weet wat hy meen hy die nodigste het in sy nuwe rol as sameroeper van die ANC se Wes-Kaapse taakspan.
- “Eerste het ek die Vader in die hemel nodig aan my kant,” sê hy. “En dan uit die volk wat ek moet lei, het ek nog mense nodig wat die volk wil help.”
Hande op, wie is bereid om hom te help?
