Haastig en vinnig: Die ‘Prez’ praat oor oem Biza en die bendes, Liam, Helen, pastor Curt, sy haat vir die media en hoekom hy en die ‘patriots’ praat ‘soos die ding staan’. Hou julle by?

Die “Prez” van die Patriotic Alliance, mnr. Gayton McKenzie, het Saterdagaand by die Afrikaanse Taalmuseum- en monument se 50-jarige vieringsgala in die Paarl ingestem tot ’n impromptu onderhoud met Mondstuk Media se inhoudshoof, Heindrich Wyngaard.

Wat het uitgestaan? Die “Prez” wil hê die Weermag moet ingeroep word teen bendegeweld op die Kaapse Vlakte.

Mondstuk Media moedig lesers aan om die volledige video-opname van die onderhoud tussen ons inhoudshoof, Heindrich Wyngaard, en die PA-leier mnr. Gayton McKenzie op ons Facebook-blad te gaan kyk. Hierdie artikel is ’n verkorte weergawe van die gesprek. 

Die versoek aan mnr. Gayton McKenzie, Saterdagaand by die Afrikaanse Taalmuseum- en -monument se 50-jarige funksie, was vir ’n onderhoud van slegs twee minute. Ons wou vinnig sy reaksie as “Prez” van die PA kry op die debat wat ontketen is deur die PA-LP Ashley Sauls I, a.k.a “Oem Biza”, toe hy gesê het dat mnr. McKenzie as ’n oud-gevangene die beste leier is om die land van misdaad te red. Toe kry ons amper twaalf minute in totaal.

“Ag, ek dink oem Biza was ’n bietjie excited,” sê die “Prez”. Die rede is dat oem Biza is baie lief vir hom. Suid-Afrika het egter “meer mense wat bevoeg is”, maar mnr. Sauls “liegie” oor die “Prez” se dieptekennis van die misdaadwêreld nie, kom hy vir hom. Mnr. McKenzie het egter vertroue in sy kollega, die waarnemende polisieminister prof. Firoz Cachalia: “Ek het met die man gepraat, ek het sy plan gehoor, ek het hom vrae gevra, vir hom pointers gegee en ek het gesien dat hy op die regte direksie is. Maar ek het ook met die president gaan praat en gesê dit kan nie dat ons mense so dood gaan nie.”

Die boodskap wat hy aan pres. Cyril Ramaphosa oorgedra het, moet duidelik verstaan word: “Ons soek die Weermag of niks nie!”

Nou deel hy my mee dat hy geduldig wag op die President se belofte dat hy “binnekort” ’n aankondiging oor die bendegeweld sou maak, wat hy nog nie gedoen het nie. Mnr. McKenzie weet wat hy gaan sê, maar wil nie die aap uit die mou laat nie, “want ek is nie die president nie”.

In ons gesprek maak hy dan sy eie aankondig eksklusief aan Mondstuk Media:

1 Desember is die datum waarop die land en die wêreld se aandag, soos nog nooit tevore nie, gevestig gaan word op die bloedbad wat deur bendegeweld op die Kaapse Vlakte meegebring word.

  • “Die wêreld ken van die plaasmoorde, maar die wêreld ken nie van die bruin mense wat so doodgemaak word nie,” sê hy. “So elke bruin man, elke swart man, elke Indiër en elke wit man moet op die eerste [Desember] swart aan het.”
  • Die vrede wat mnr. McKenzie vroeër tussen die Americans en Hard Livings-bendes onderhandel het, het ’n jaar lank gehou. “Mense sien nie altyd wat ons doen agter die skerms nie,” sê hy. Wat hom vandag egter “die joos in maak”, sê hy drigtig, is ondersteuningsveldtogte vir Palestina, “maar wat van ‘Free the Cape Flats’?”.
  • ’n Boodskap van bemoediging aan gemeenskappe: “Ons raak nou intensief.” Hulle sal op 1 Desember sien hoe die wêreld gedwing word om kennis te neem daarvan “dat ons afgemoor word en niemand doen veel daaromtrent”. Aan bendeleiers wil mnr. Mckenzie sê: “Hulle tyd raak min.”
  • Oem Biza was in ’n bepaalde opsig dan tog reg, gee die “Prez” nou toe: “Ek dink dat ek gebore is vir ’n tyd soos dié.”

Oor die PA se “pinkster-politiek”: “Ek is ’n gesalfde. Alles wat ek bemag het in politiek, is deur die Man van Bo. My mense is kerkmense en ons is onbeskaamd daaroor en ons djabula, elke week as ons bymekaar kom. Onse party sit die Here voor en mense agter.”

Oor Liam Jacobs, wat pas as ’n raadslid in die Stad Kaapstad ingesweer is ter voorbereiding van sy veldtog om ná die 2026-plaaslike verkiesings Kaapstad-burgemeester te word: “Hy is ’n talent, hy is daai diamant in die rof. Liam Jacobs is die antwoord. Hy is geleerd.” Wat mnr. Jacobs op 25-jarige ouderdom al vermag het, is baie meer as meeste van sy kritici, sê die “Prez”.

  • Hy is oortuig daarvan: “Liam Jacobs gaan Kaapstad regeer. Helen Zille hardloop nou weg.”
  • Teenargument van die onderhoudvoerder: Zille, wat hoop om Johannesburg se nuwe burgemeester in 2026 te word, moet die gemors gaan regmaak wat die PA saam met die ANC daar veroorsaak het. “Helen Zille het niks hier reggemaak nie. (…) Jy kan mos nie ’n ander man se huis gaan regmaak dan lyk jou huis soos ’n varkhok nie!”

Oor die sosiale media-geveg tussen “Patriots” en past. Curt van Heerden, stigtersleier van die PPM: “Hou die Patriots uit jou bek uit as jy nie wil hê hulle moet van jou praat nie,” sê mnr. Mckenzie. “As jy van die Patriots praat, dan moet jy respek sit op hulle name.”

  • Die PPM, wat deur past. Van Heerden en nóg ’n voormalige PA-lid, mnr. Chad Louw, begin is, “is nog nie eens [as politieke party] geregistreer nie”. Mondstuk Media het dit ook so.
  • Behoort die “Prez” nie vir past. Van Heerden en mnr. Louw as jonger politici hulp aan te bied nie? “Hulle moet gehelp word,” sê hy – en bied dan sy beste advies aan: “Maar hou op k*k praat van die PA!”
  • Die PA is immers “die vinnigste groeiende party in die land”, danksy onder meer die aansluiting van “drie uitvoerende lede van die George-munisipaliteit”. Sagter nou aan “Chad Louw en daai mannetjie Curt”: “Ek is trots op hulle, maar hulle moet net die PA uit hulle monde uit hou, want as jy dit [nie] doen [nie] dan roep jy ons.”

Steeds geen wag voor sy mond nie en hy is trots daarop: “Die feit bly staan, onse mense is hier [in verarmde omstandighede], want hulle was gesê wat om te sê, hoe om te sê, waar om te bly. Ons is nie daai tipe wat gesê word nie. Ons praat soos die ding staan. Ons gaan vorentoe. Ons groei. Nou wil almal iets sê oor die PA. Elke mens het iets te sê oor die PA.” Waar was dié kritici en kommentators, vra die “Prez”, toe sy party net ’n enkele setel gehad het? Nou’t ons honderde seats, nou wil almal vir ons sê hoe om die PA te run. Vat 10 seats en sit stil en watch hoe bou ons onse eie tafel.”

“Ek hou niks van julle nie!” sê die “Prez” oor sy verhouding met die media. Hiervoor, klink dit as jy na hom luister, dra News24 ’n groot deel van die skuld: “Sal jy met my saamstem dat dit nog nooit in die wêreld gebeur het nie dat die grootste newspaper – News24 – vier maal geapologise het vir my. Vier maal!” Maar is dit voldoende rede om die hele boksemdaais media-organisasies te blameer dat hulle nie van die PA hou nie? “Maar hulle like nie die PA nie!”

  • Die onderhoudvoerder kom ook onder skoot: “Jy praat van ons pinkster-politiek maar jy praat nie van ons policies nie!”
  • Wanneer, vra ek, praat die party oor beleid? Hulle doen, sê die “Prez” en lys drie beleidstandpunte: die doodstraf, afskaffing van rasseklassifikasies, dat Godsdiens teruggebring moet word in skole en dat skoolverlaters diensplig moet verrig.
  • “Nou wat praat jy van ons praat nie oor policies nie? Jy wil seker óók verskoning vra!”, kap hy af, terwyl die seremoniemeester binne wonder waar die Minister van Sport, Kuns en Kultuur verdwyn het, want hulle wag dat hy ’n geskenk in ontvangs moet kom neem.

Dit is wat oor die PA-leier Gayton McKenzie gesê word: dat hy, vratte en al, ’n geskenk is vir die Suid-Afrikaanse politiek.