‘Pak op’: Bredasdorp se ‘Glaskasteel’ hou Zimbabwiërs en Malawiërs veilig voordat hulle huis toe keer

Hierdie twee dames in die foto was deel van die groep buitelanders wat Mondstuk Media teëgekom het toe ons Sondagmiddag by die bekende “Glaskasteel”-sportgronde in Bredasdorp aankom.

Barmhartige Samaritaan: Jeremy October van die Bredasdorp Voeding- en Ontwikkelingskema was verantwoordelik vir die verskaffing van etes aan dié mense van hoofsaaklik Malawi en Zimbabwe.

NUUSMAKERS | 16.06.2026: Ten spyte van die stel maatreëls wat pres. Cyril Ramaphosa ’n week gelede aangekondig het om die voortslepende krisis met ongedokumenteerde buitelanders aan te spreek, vrees dié mense eerder vir wat mag gebeur wanneer die drukgroep March on March se spertyd van 30 Junie vir hul terugkeer na hul geboortelande aanbreek.

  • In die Overberg het Mondstuk Media die afgelope Sondag ’n groep van sowat 500 meestal Malawiërs en Zimbabwiërs teëgekom wat uit ’n plaaslike plakkerskamp padgegee het.
  • Die groep – ook van Mosambiek en Namibië – het volwassenes, jongmense en klein kindertjies ingesluit, soos in die video gesien kan word.
  • In die video praat Mondstuk Media met Jeremy October, wat die Bredasdorp Voeding- en Ontwikkelingskema verteenwoordig.

Omgee: Die munisipale bestuurder van Kaap Agulhas-munisipaliteit (KAM), Wessel Rabbets, het Vrydag in ’n mediaverklaring gesê voorvalle van intimidasie teen die buitelanders het die munisipaliteit genoop om hulle in die Bredasdorp-gemeenskapsaal te huisves. Uit die 395 ontheemdes wat op daardie stadium opgeteken is, was 92 kinders gewees; onder die volwassenes was die oorgrote meerderheid van Zimbabwe. Soos die mense van hierdie omgewing in die apartheidsdae weens die Groepsgebiede-wet moes oppak, word dit nou aan ander kwesbare mense gedoen.

In sy eie hartroerende plasing het die uitvoerende burgemeester van KAM, Raymond Ross, op Facebook geskryf: “What has made this situation even more personal for me is knowing that my own son is friends with some of these children. He knows them not as foreigners, immigrants, or statistics. He knows them as friends.” Mnr. Ross se pleidooi aan plaaslike inwoners is om, ongeag hul frustrasies, nooit hul medemenslikheid prys te gee nie.

Reg of verkeerd: Uit die Overstrand het raadslid Grant Cohen op Facebook ’n plasing gemaak in reaksie op die protesoptrede in Kleinmond teen ongedokumenteerde buitelanders. Mnr. Cohen het eers almal bedank wat hand bygesit het met die humanitêre bystand vir buitelanders in die plaaslike stadsaal.

  • “It is important for to state that I believe things are either right or wrong,” skryf hy. “While I understand the circumstances that may lead people to flee to another country, often out of desperation, it should not be done illegally. However, those who are in a country legally have every right to be there, and that right should be respected.”

KYK | Jeremy October van die Bredasdorp Voeding- en Ontwikkelingskema praat hier met Mondstuk Media

 

Leave a Reply