Overberg Challenge 2026: Die toernooi waarin die verdedigende kampioen nou die ‘underdog’ is.
Caledon Rugbyklub kon van die bank af inglip – ná Botrivier se onttrekking – om ook Saterdag tuis aan die vierde Overberg Challenge-toernooi deel te neem.
Wie is die gunsteling? Dit sou Botrivier wees, 2025 se top-Overbergse span in Boland se Groot Uitdaagkompetisie. Nou lê dit tussen Safcol, Universals van Stanford en Hawston.
16.02.2026 | SPORT: NH Sports TV wil met die Overberg Challenge-rugbytoernooi, wat vanjaar vir die vierde keer op Caledon aangebied word, hoop skep en daarmee saam rugby se rol beklemtoon as deel van plaaslike gemeenskappe se erfenis.
- Hierdie boodskap is die goue draad wat by Vrydagaand se bekendstelling by The Caledon Casino, Hotel & Spa geloop het deur pa en seun, Romeo en Rodney Nissen, se toesprake voor deelnemende klubs, plaaslike media en kykers op die regstreekse uitsending.

Gasspreker: Pat Marran, vise-president van Boland, het gesê: “Die toernooi help om hoop te skep regoor die Boland.” Hy glo dit is waarom spelers van ander streke gretig is om by klubs in die Overberg te kom rugby speel.
- Die “Vice” sê al is daar prysgelde, is dit nie veronderstel om die belangrikste dryfveer vir deelname aan die toernooi te wees nie. Die fokus moet eerder op spelers se fiksheidsvlakke wees, die ontwikkeling van spelstrukture en die fisiese groei van die spelers.
- Siende dat die toernooi ’n week voor die aanvang van die Boland se ligakompetisies op 7 Maart plaasvind, sê hy, bied die Overberg Challenge aan afrigters die kans “om nog vir oulaas, byvoorbeeld, kombinasies te kan toets”.
- “Die bekendstelling gaan nie net oor die toernooi nie. Dit is eintlik ’n reis na groei en ’n reis na die Top 12.”
Wie sal die trofee omhoog hou? By die 2025-toernooi het Caledon, wat in 2024 die Top 12 se halfeindstryde gehaal het, die Overberg Challenge verower. Dit was onder coach Hershelle van Aswegen se leiding; hy het Botrivier verlede jaar ook tot in die Top 12 laat vorder en het vanjaar die uitdaging om dieselfde met Grabouw se “G-Boys” te doen.
- Safcol bly altyd ’n kampioenspan, maar alle oë is vanjaar op Universals van Stanford, wat vir Lucian Cupido as direkteur van rugby nader getrek het – en ook ’n paar ysterspelers, soos Marco Jones van Robertson Town, gekontrakteer het.
- Reemen Moore, wat namens Caledon se spelers by die bekendstelling gepraat het, het gesê die span is bewus daarvan dat hulle as die verdedigende kampioen ook as “underdog” gaan deelneem. Dit moedig hulle aan eerder as dat dit hulle ontmoedig.
Borge en geloofwaardigheid: Die toernooi van agt ure se rugby word regstreeks uitgesaai deur NH Sports TV en word aangebied sonder die ondersteuning van enige plaaslike besighede, het past. Nissen, NH-direkteur en toernooidirekteur, gesê. “Ons klub is die sole sponsor van die toernooi. Niemand in die dorp was bereid gewees om te help sponsor nie.”
- Wat hom hieroor dwars in die krop steek, is dat die dag van die Overberg Challenge ’n dag is “waarop die dorp tot stilstand kom en die winkels vól is” vanweë die groot getalle toeskouers wat van ander dorpe af opdaag om hul spanne te kom ondersteun.
- Navorsing sal nog gedoen word oor die presiese waarde van die ekonomiese inspuiting wat die toernooi na die dorp bring, het hy gesê.
- Prysgeld hierdie jaar beloop as volg: R40 000 vir die wenspan, R10 000 vir die naaswenner en R6 000 en R4 000 onderskeidelik vir die derde en vierde plek-wenners.
Belangeverklaring: Past. Nissen het aangedui dat hy sal afstand doen van die pos as toernooidirekteur omdat hy ook klubvoorsitter is van Caledon, ’n deelnemende span. Dit is om moontlike belangebotsings te voorkom. “Ons wil ’n geloofwaardige toernooi aanbied,” het hy gesê.
