Februarie is die maand van liefde. Weet jy wat liefde regtig is, vra dié skrywer. Kyk wat jy by haar kan leer

Dit was Saterdag die dag waarop tjoklits en rooi rose ’n belangrike deel van verliefde of getroude paartjies se dag uitgemaak het.

Waaroor gaan dit? Valentynsdag het alles kamstig met die liefde te doen, maar MARYNA MARENGO-BARNARD het haar eie definisie daarvoor. Ons het haar gevra om dit met ons te deel.

16.02.2026 | STANDPUNTE: In die maand van die liefde is die vraag op almal se lippe: “Wat is liefde regtig?”

  • Jongmense en tieners sal vir jou sê dit is soos skoenlappers in jou maag, terwyl ouer mense jou sal sê liefde vat die honger weg.
  • Wat ons wel weet dit maak mense in die algemeen opgewonde en baie gelukkig: Mans glimlag skielik met die foon en vrouens gee meer aandag aan hul voorkoms.
  • Dit is die mag van liefde.

Wat ons geleer is: Ons word van kleins af gesê liefde is ’n gevoel. Niemand maak regtig tyd om vir jongmense te verduidelik dat liefde ’n verantwoordelikheid ook is nie. Met die woorde “Ek is lief vir jou” kom die verantwoordelikheid om die woorde in aksie oor te sit.

  • Liefde is wat jy doen. Hoe jy dit doen.

Eerste liefde: Die eerste liefde kennismaking met liefde, is ons ouers se liefde. Maar wanneer ons sien hoeveel kinders hulself in weeshuise of in aanneming bevind, besef ons daardie liefde van ’n ouer het nooit in hul geval in aksie oorgegaan nie. So is daar baie ander mense wat al op verskillende maniere in liefde teleurgestel is en seergemaak is.

Hoe kry jy weer rigting in die maand van liefde? 4 maniere:

  • Jy begin by jouself. Ons kan nie ander liefhê as ons nie lief is vir onsself nie.
  • Jy kan nie iemand anders inspireer, bou en ondersteun as jy jouself nie eers kan ondersteun nie.
  • Jy kan nie iemand aanvul wanneer jy stukkend en gebroke is nie.
  • Jy kan nie vorentoe beweeg in ’n verhouding as jy nie jou losmaak van die seer van ou verhoudings nie. Kettings van jou verlede moet breek voor jy vrylik in ’n nuwe verhouding kan instap.

Liefde is …

  1. Die gevoel wat jou trots breek wanneer als in jou weier om verskoning te vra.
  2. Die krag wat na elke mislukte verhouding opstaan en sê ek probeer weer.
  3. Die gevoel wat vryspreek; wat sê ek los my seer en my vernedering agter my.
  4. Die gevoel wanneer jou vriende jou male sonder tal teleurstel dat jy hulle net weer en weer vergewe.

Wat liefde nie is nie: Daarom is liefde nie net ’n dom of simpel gevoel nie. Dit is ’n besluit dat ek hierdie keer meer sal insit; die besluit om sagmoediger te wees. Om meer te luister en minder te word. Liefde sê vir die een teenoor wie jy dit verklaar dat daardie persoon belangrik is; dat jy moeite sal doen om dinge te laat werk en uitwerk.

  • Liefde laat jou ook besef dat wanneer dinge nie uitwerk nie, moet jy wegstap, vorentoe kyk en niks bagasie saamdra nie.

Die belangrikste aksie van liefde is om met jou hele wese lief te hê. Sê dit elke dag. Soms word mense so gewoond aan hul maat hulle vergeet die basiese dinge. Dit is: Respek. Vriendelikheid. Verdraagsaamheid. Verandering en omgee, oor en oor.

Die seerkry-faktor: Jou vrees vir seerkry moet nooit die rede wees dat liefde nie by jou deur kan klop nie. Jy maak saak – vir jouself, jou familie en veral vir elke persoon wat jy liefhet.

Wyer impak: Dit is liefde wat in die wrede wêreld mure afbreek. Dit is liefde wat grense oorsteek. Liefde is die laatnag opoffering. Dit is die aksie dat wanneer niemand anders iets wil doen, sal jy dit doen.

Nader aan die hart en huis: Liefde vul die petroltenk sonder dat jy hoef te vra. Dit koop jou gunsteling roomys en pak die spesiale broodjie in. Liefde vryf die seer voete na ’n lang dag. Dit is liefde wat ’n man laat voel hy is nodig, hy maak saak en hy is die leier. Dit is ook liefde wat seker maak geen vrou word seergemaak of aangeval nie. Dit is liefde wat ouers bymekaar hou – selfs al het een geval en gestruikel.

Trappe van vergelyking: Die woord “liefde” is nie in my woordeskat vervat nie. “Dieplief” is. Dit beteken om liewer te wees vir iemand anders as jou alledaagse liefhê. Jy sien, met my “dieplief” is daar nie ruimte vir twyfel en omdraai nie.

  • Dieplief loop die pad wat niemand wil of kon nie. Kom stap jy saam?

Maryna Marengo-Barnard is ’n regspraktisyn en kulturele werker in gemeenskappe.

Leave a Reply