MENING: Wanneer gaan ons ophou om die kinders met lootjies te laat loop en loaf?

Waarom word dieselfde soort fondsinsamelings hééltyd in bruin gemeenskappe gedoen en wanneer gaan ons anders begin dink daaroor, vra HEINDRICH WYNGAARD op sy Youtube-kanaal “Wie & Wat met Heindrich Wyngaard”. Hier verduidelik hy met 7 PUNTE wat hy bedoel.

Miskien moes ek sommer een keer die volledige video op al die platforms geplaas het sodat almal dit op een slag hopelik enduit kon kyk, maar die mense wat meer hiervan weet as ek, sê ’n mens moet dit kort hou op Facebook en TikTok en dan die kykers op dié manier lok na die Youtube-kanaal.

Elk geval, ek doen dit toe só: in die Facebook- en TikTok-video kom ek net sover as die deel waar ek praat oor hoeveel mense jou soms op een slag nader vir donasies. Dit is die skoolkinders, die sportklubs en die kerk se verskillende liggame – en almal se behoefte is groot en verdien om ondersteun te word.

Die SEWE PUNTE wat ek oor fondsinsamelings wou maak, word hier opgesom:

  1. Selfs al is jy gebore met ’n gee-gees en probeer altyd help waar jy kan, kan jy eenvoudig nie byhou nie. (En ek weet sommige mense neem aanstoot of neem dit persoonlik op as ’n mens oor hierdie goed praat. Dit moet wel gesê word – nie om enigiemand te na te kom nie, want almal kry swaar – dat ons regtigwaar nie so kan aangaan nie.)
  2. Soos ek in die video noem, weet ons al dat die kind matriekafskeid gaan hou wanneer die kind nog maar in graad R is. Ons weet nou al die kind gaan volgende jaar op sporttoere. Ons weet van die kerk se basaar en die rugbyklub se ys vir die medics en die afskeidsonthaal wat aan die einde van die seisoen gehou word.
  3. Nou hoekom lyk dit ons wag gedurig tot op die nippertjie voordat ons onsself byval dat die kind goed gaan nodig het – soos skryfbehoeftes vir volgende jaar, of toks, of ’n mooi outfit vir die debutantebal?

Hoekom moet alles die heeltyd in die noodgevalle-afdeling van fondswerwing beland?

  1. Lees asb. hierdie deel stadig: Wanneer ek die vrae soos bo vra, neem ek niks weg van mense wat moedig soggens opstaan en moeite insit om op hulle eie manier die inisiatief te neem om die geld wat benodig word te probeer insamel nie.
  2. Die ding is net dat as die hele klub se spelers en die hele groep matrieks en die hele graad 7-groep almal met dieselfde lootjie loop en vir elke mens (of heeltyd dieselfde mens) in dieselfde straat vra om op te sit, wat sit hulle op en kan jy verstaan dat hulle moeg raak?
  3. So, my pleidooi is dat ons anders moet begin dink en doen wanneer dit by fondsinsamelings kom. Hier is ’n eerste voorstel: Stel ’n kalender vir die hele gemeenskap se jaarlikse funksies op om te verhoed dat ons instellings op dieselfde dag of naweek funksies hou.
  4. En hier is ’n tweede voorstel om met mekaar oor te praat: Begin ’n gemeenskapsfonds waartoe almal ’n eenmalige bydrae maak van, sê nou maar, R100 (of R500 as jy kan). Maal gou daai 100 met 1 000 bygooiers, dan kry jy R100 000 – en so kan jy aangaan met daai som. “Lede” van die fonds kan dan rentevrye lenings by die fonds maak (of ’n minimale rente van 10% bysit) sodat die geld altyd terugkom. Sodoende kan die fonds dan die begunstigde weer help of iemand anders daarmee help. Dink net ten minste hieroor – en maak van volgende jaar Twintig-Sukses-en-Twintig!
  • Mondstuk Media wil graag hoor hoe jy hieroor voel. Plaas jou mening op ons Facebook-blad, stuur ’n WhatsApp na 073 388 3672 of reageer op die Youtube-kanaal “Wie & Wat met Heindrich Wyngaard”.

 

Leave a Reply