MAANDAGSOUT: Ouer, doop tog jou kinders met name waarmee hulle sal kan saamleef. Jy wil tog nie hê die kind se naam moet die kind in die gesig vat nie
Danie van Wyk, gedoop Daniel Albertus van Wyk, is ’n oud-onderwysman en die uitvoerende voorsitter van die organisasie DAK Netwerk. Hy is ook ’n ywerige waarnemer van gebruike (en geite) in gemeenskappe.
Wat het hy vandag op die hart? Die gewoonte van sommige bruin ouers om vir hul kinders name te gee wat soms ’n verleentheid vir die kind kan veroorsaak. Nie in sy geval nie: hy is vernoem na sy pa se jonger broer (Daniel) en sy oupa aan sy pa se kant (Albertus).
Die moeilikheid – en dit is die punt van hierdie artikel – is dat die kind vir die res van sy of haar lewe met die gekose naam opgeskeep gaan sit.
So vertel ’n dominee onlangs dat hy tydens ’n doopplegtigheid, lank gelede, ’n naam vir ’n kind ontvang het, maar dat slegs ’n gedeelte daarvan op die naambriefie verskyn het wat die kind se ouma aan hom oorhandig het. Dit was ’n dogtertjie. Die (halwe of onvolledige) naam wat aan die dominee oorhandig is, dui toe “Jan” aan. Hy was geskok, want hoe kan ’n meisiekind se naam tog “Jan” wees en was hy toe verplig om aan die ouma te vra: “Mevrou, waar is die kind se ouers?” Dit was die logiese vraag, waarop ouma geantwoord het dat sy slegs ’n gedeelte van die naam kon afskryf voordat die foon afgegaan het.
Die kind se ma het gewoon en gewerk in die Kaap en kon die ouma slegs ’n gedeelte van die naam afskryf voordat die oproep beëindig is (weens te min eenhede). Daardie dae was daar nie selfone of bel-toeps, soos WhatsApp nie – almal was aangewese op die telefoon by die poskantoor. Daar en dan was besluit om die kind ’n “tydelike” naam te gee – Magriet – totdat ouma die regte naam kon kry en die naam dus so geregistreer kon word. Dit het toe later in die week bekend geword dat die kind se naam eintlik “Janice” moes wees en nie “Jan” nie.
Waarom nou hierdie staaltjie vertel?
- Naamgewing is altyd ’n issue in ons gemeenskape. Ek het op ’n dag – toe ek nog ’n onderwyser was, ’n klaslys aan ’n vriend gegee om ’n naam vir sy kind te kies omdat die arme bloedjie toe al ’n week sonder ’n naam was omdat die ouers nie ooreen kon kom oor wat hulle die kind moes noem nie.
- Die naam “Lucrecia” het onmiddellik by hulle byval gevind en dra daai kind tot vandag die naam en almal was gelukkig daarmee.
In Swede bestaan wetgewing dat die staat name vir kinders kan reguleer. Die naamgee-wet word “Namnlagen” genoem en name wat ouers aan kinders verleen, word deur ’n staatsagentskap vooraf goedgekeur. Ouers moet die naam van die kind drie maande ná geboorte vir goedkeuring aan die agentskap voorlê. “First names shall not be approved if they can lead to discomfort for the person bearing the name, or for any reason is unsuitable as a name,” lui die wet. Die eerste naamgewingsordonnansie was in 1901 gepubliseer om te verhoed dat nie-adellike families hul kinders vernoem na adellikes, wat op daardie stadium nie wettig was nie.
Só ’n wet of ordonnansie sal nóóit in Suid-Afrika goedgekeur word nie gegewe ons kulture en tradisies. Dis opmerkbaar hoe mense vanuit veral die bruin gemeenskappe deesdae ook die Amerikaanse gewoonte volg om kinders name soos “Storm” of selfs ’n rigtingnaam, soos “North”, of (nie seker of dit na die vrug of tegnologiemaatskappy verwys nie) ’n naam soos “Apple” te gee. Die name van beroemde akteurs of TV-bekendes word ook gereeld oorgeneem. Verby is die dae toe die Bybel deurgeblaai was om die name van Bybelhelde of -heldinne voorkeur te gee. Indien dit wel gebeur, word die Engelse ekwivalente gegee om dit meer fancy te laat klink. Dis ook ’n gewoonte om veral die naam “Leigh” of “Lee” by te voeg by veral dogters se name, byvoorbeeld “Jenny-Lee”, “Tarren-Leigh”, “Jamy-Lee”, “Kay- Lee” en ander. Die seuns word ook nie agterweë gelaat nie: “Harleigh” en “Attleigh” is twee name wat ek in skole gevind het waar ek onderwys gegee het.
Dis natuurlik ouers se demokratiese reg om hul kinders te doop of te vernoem soos wat dit hulle gelukkig sal maak. Neem egter in ag dat die kind met daai naam opgeskeep sit vir die res van haar of sy lewe. Gedurende die apartheidsbewind het die klerk agter die toonbank soms besluit wat die kind se naam moet wees. Vandag is daar mense wat name het wat hul ouers nie opgegee het by die departement van binnelandse sake nie. Baie ouers kon nie lees of skryf nie en was name soos – ek sweer – “Kiewiet” en “Dikkop” as amptelik opgegee.
Naamgewing kan soms kontensieus wees en moet met omsigtigheid hanteer en benader word. Daar moet gewaak word teen onenigheid wat kan ontstaan veral waar familiename betrokke is. Naamgewing moet, ideaal gesproke, ’n vrolike en ’n heuglike gebeurtenis wees, wat vergelyk kan word met die koms van reën. Dit bring vreugde en vernuwing en in baie gevalle versoening.
Eindnota: Voorbeelde van name wat genoem is, is wat ek teëgekom het in my loopbaan en lewe en is nie uit die lug gegryp om in hierdie artikel te gebruik nie. Ook het ek nie vanne bygevoeg nie omdat dit oneties sou wees.
