Hierdie burgemeesterskandidaat is ’n afgetrede polisiekaptein. Nou wil sy Beaufort deur die politiek regruk
Die DA het verlede week ’n eerste agt van sy Wes-Kaapse burgemeesterskandidate by ’n mediakonferensie in die Moederstad aangekondig. Gina Duimpies was een van hulle.
Waarom is dit belangrik? Dié kandidaat vir Beaufort-Wes is die soort wat die minister van koöperatiewe regering, Velenkosini Hlabisa, glo ’n wesentlike verskil kan maak weens haar kundigheid.
9.02.2026 | POLITIEK & POLITICI: Haar toetrede tot die politiek was “baie onverwags”, beïnvloed deur ’n voormalige raadslid, vertel Gina Duimpies in ’n onderhoud met Mondstuk Media. Omdat sy op daardie stadium reeds uit die polisie getree het, as ’n kaptein, wou sy ’n ander platform vir haarself vind om steeds diens te lewer vir die gemeenskap van Beaufort Wes.
In Augustus verlede jaar is sy toe – met 30 jaar se polisie-ervaring agter die rug – tot die nuwe rol van burgemeester verkies; en by die DA se mediakonferensie verlede week was haar naam die eerste van die kandidate wat deur Jaco Londt aangekondig is. (Die ander kandidate verskyn aan die einde van hierdie storie.)
- Londt is hoof van die DA se Wes-Kaapse burgemeestersveldtogte en ook provinsiale minister van maatskaplike ontwikkeling: “Ná ’n periode van politieke onrus wat Beaufort-Wes ontwrig het (…),” het hy gesê, “het hierdie kandidaat stabiliteit en ervare leierskap na die munisipaliteit gebring.”
Drie kenmerke van haar leierskap: (1) Bestendigheid. (2) Dissipline. (3) Sterk fokus op verantwoordbaarheid.
- “Sedert hierdie kandidaat as burgemeester oorgeneem het, het die kandidaat prioriteit gegee aan die herstel van doeltreffende dienslewering, regeerstrukture versterk en deursigtigheid verseker,” het mnr. Londt bygevoeg, “wat as ’n bewys dien dat Beaufort-Wes vorentoe kan beweeg onder bekwame en beginselvaste leierskap.”
Me. Dampies se onderhoud met Mondstuk Media geskied in die konferensielokaal by die 15 on Orange-hotel in Kaapstad, waar sy en sewe ander DA-burgemeesterskandidate* aangekondig is, vyf ure se ry ver van die huis af.
Die belangrikste uitdaging by die huis op Beaufort-Wes is mense se verlies aan inkomste weens werkloosheid, sê sy. Maar dit klink nie of dit haar uit die slaap hou nie. Sy sien reeds ’n lig in die tonnel, danksy die windplase en die sonenergie-projekte wat ’n groot duik in die werkloosheidsyfer behoort te maak.
Wat van water, vullisverwydering en rioolwerke in haar dorp? Sy dink die plaaslike owerheid doen “redelik”, gegee die munisipaliteit se beperkte hulpbronne, “maar ons sou graag wou dat onse hulpbronne versterk word sodat ons ’n beter diens kan verskaf aan die gemeenskap – die diens wat elke inwoner verdien”.
Beide Tertuis Simmers, Wes-Kaapse leier, en John Steenhuisen, uittredende nasionale leier, het by die mediakonferensie veiligheid as deel van die DA se verkiesingsveldtog genoem. Hoe sou uitgetrede kapt. Dampies haar nalatenskap as ’n oud-polisielid in haar gemeenskap beskryf?
- “Ek sou sê uiteraard is gemeenskapsveiligheid my sterk punt (…) en die veiligheid van die gemeenskap sal altyd by my prioriteit geniet,” antwoord sy. “Ek sal wil sien dat onse Law Enforcement-been verstewig word en dat ons meer beamptes op die grond kan kry en dan terselfdertyd ook onse municipal by-laws sal aanspreek.”
‘Stem vir my, want…’: Haar boodskap aan die kiesers van Beaufort-Wes is dat hulle vir haar moet stem omdat sy nog altyd aan u bewys het dat sy geloofwaardig is, die belange van die mense van Beaufort-Wes op haar hart dra, omdat sy weet sy kan ‘’n verskil maak en omdat sy weet waar die raad op hierdie stadium staan op die weg na stabiliteit en ook omdat sy weet dat die finansiële herstelprogram van die dorp op koers is.
Die (ander) kandidate: Me. Antoinette Steyn (Kaapse Wynlande Distriksmunisipaliteit); mnr. October (Okkie) Haarvoor (Sentraal-Karoo Distriksmunisipaliteit); mnr. Gerald Boezak (Hessekwa); me. Joslyn Johnson (Kannaland); mnr. Levael Davis (Knysna); me. Aletta Theron (Laingsburg) en dr. Annelie Rabie (Overberg Distriksmunisipaliteit)
Simmers se slotsom: “Waar ons regeer, sal hierdie kandidate voortbou op ons baanrekord van dienslewering,” het mnr. Simmers, ook Wes-Kaapse minister van infrastruktuur, gesê. “Waar ons nie regeer nie, verteenwoordig hierdie kandidate ’n geleentheid vir kiesers om hul dorpe aan die werk te laat kry soos net die DA kan.”
- Elders gehoor: Die minister van koöperatiewe regering, Velenkosini Hlabisa, het vroeër verlede week by die jaarlikse konferensie van die F.W. de Klerk-stigting gesê: “Om plaaslike regering te herstel, moet die regte mense vir die regte posisies gevind word. (…) Bekwame leierskap stel bekwame amptenare aan.”
