‘Dis hoekom ek glo Joshlin Smith lewe nog’: Gayton by die bekendstelling van die JS Foundation
Gayton Mckenzie is in sy hoedanigheid as minister van sport, kuns en kultuur voorgestel by die J.S. Foundation-funksie gister op Saldanha.
Waarom maak dit saak? Ten spyte daarvan dat hy vasgeskop het teen bewerings dat die stigting se bekendstelling ’n verkiesingstrategie was, het hy deurentyd die hoed as leier van die Patriotic Alliance gedra.
16.03.2026 | NUUSMAKERS: Die Dial Rock-gemeenskapsaal was tot oorlopens toe vol; ook die stoele wat buite gepak is, was nie genoeg om sitplek vir almal in die erge hitte van laatsomer te gee nie, ten spyte van die baai wat meters ver weg is.
- Maar die gees was tipies dié van ’n Patriotic Alliance-saamtrek: gevul met sang en koordans en slagspreuke eie aan die party, soos “ons baiza nie” – ons staan nie terug nie – nie eens vir die warmte nie.
Hier voor sit van die eerste BBP’s wat opgedaag het, Godsmanne galore, soos past. Leo dos Santos en past. Jonathan Rubain; in die middel sien jy lede van die J.S.-stigting se raad, wat by die geleentheid bekend gestel is; en by die ingang wag Charmaine Laubscher, tot onlangs nog DA-burgemeester hier en nou ’n PA-lid, dat die “Prez” moet opdaag.
- Die “gewone” lede van die party, oftewel die “patriots”, het van sover suid as Bredasdorp aan die voetenent van die Kaap gekom, meer as 300 kilometer en 4 ure weg.
Joshlin Smith se biologiese pa, Jose Emke, is teenwoordig, saam met hom sit sy ma, Rita Yon. Hulle bevind hulle ook in die voorste gestoeltes, aan die linkerkant van hom wat binne oomblikke gaan vertel hoe baie geld hy al bestee het aan die Joshlin Smith-soektog. Dit sluit uitgawes in soos kos vir die mense wat help soek het na haar, vervoer – en ook private speurders.
- “Onse kinders word mos nie gesoek nie,” sê mnr. Mckenzie. “Ons soek nou self. Ons soebat nie meer nie.”
- Nuwe inligting wat hy Woensdag aan die minister van polisie, prof. Firoz Cachalia, gaan oorhandig, oortuig hom dat Joshlin steeds lewe.
- Die punt waarop hy hamer, is dat DA-politici nie ag wou slaan op die inligting wat hy en sy span versamel het – weens politieke redes; en nou loop die persoon na wie hy steeds vinger wys, vry buite rond.
- Lees Mondstuk Media se storie hieroor op Facebook.
Nadat die “Prez” binne die saal verwelkom is, kom hy in die gang tussen die stoele deur, stop by Joshlin se jonger sussie en haar grootmaakma, tel haar op sy arm Jy sou op daai oomblik kon sweer dis klein Joshlin sélf wat jy sien – blou oë, gesigstrekke – albei sussies uitgeknip hulle ma, Kelly, wat nou tronkstraf uitdien vir mensehandel. Hul ouer broertjie, ook in die eerste ry, sit grootoog en opgewonde langs Kelly se ma, Amanda Daniels-Smith, aan die regterkant van die minister.
- Die “Prez” belowe later dat die kinders en familielede Disneyland toe geneem gaan word. Mnr. Emke is opgewonde: hy glo ook dat Joshlin nou lewe, soos die “Prez”; en hy sien ook baie uit na ’n eerste keer oorsee.
- Die kinders se skooluitgawes sal ook, onder meer, na omgesien word. Hulle moet, anders as Joshlin, aan niks ’n tekort het nie. Die stigting moet daarvoor sorg – en die Mckenzie-familie sal ook help.
- Die seuntjie sê, toe die leier hom van die verhoog af daarna vra, dat hy eendag ’n “pop star” wil word. Waar hy op sy ouderdom aan die idee kom om famous te wil wees, is onbekend.
Dit is die tragedie van sy sussie se verdwyning twee jaar gelede in Februarie 2024 wat háár bekend gemaak het. Nou wil die J.S.-stigting verseker dat ander kinders wat vermis raak – ses per dag, sê mnr. Mckenzie – nie dieselfde oorkom nie of dat die nodige hulpbronne, anders as met Joshlin, onmiddellik beskikbaar gestel word om vermiste kinders te soek.

KLIEK HIER vir ’n eksklusiewe onderhoud op die Hein Wyngaard Youtube-kanaal met Gayton Mckenzie oor die stigting, kinders wat sterf weens Israel se oorloë en die aanwending van die Weermag teen voortslepende bendegeweld.
