Die probleem is nie dat ’n kind nie ’n pastei en koeldrank kan bekostig nie. Blameer gedwonge fondsinsamelings

Die beeld van ’n kind, wat sy gesig in skaamte bedek omdat hy nie aan die fondsinsamelingsaksie kon deelneem nie, het emosies regoor die land ontketen.

Wat leer ons daaruit? GLEN SNYMAN skryf dat die werklike probleem is die enorme druk wat op onderwysers geplaas word om geld vir die skool in te samel.

16.03.2026 | STANDPUNTE: Baie mense veroordeel tans die onderwyser in die sogenaamde “pie video”, waar ’n graad 1-leerder in ’n klaskamer sonder kos sit, terwyl ander kinders pies en koeldrank geniet tydens ’n skoolfondsinsameling. Dit het by Thembalethu Primêr in George in die Wes-Kaap gebeur.

  • Die emosies wat deur die video losgemaak is, is te verstane.
  • Maar min mense praat oor die werklike probleem agter hierdie situasie. Hier is my sikspens:

Ter verdediging van die onderwyser: In baie skole word onderwysers amptelik of nie-amptelik beoordeel volgens hoe goed hul klas met fondsinsameling vaar. Daar word selfs klas-kompetisies gehou oor watter klas die meeste of die minste geld insamel. Onderwysers kan waarskuwings of dissiplinêre druk ervaar as hul klas swak presteer of as hulle nie entoesiasties aan fondsinsamelingsprojekte deelneem nie.

  • Hierdie praktyke plaas onderwysers dikwels in ’n onmoontlike posisie.

Daar bestaan ook ’n sterk kultuur in baie skole waar onderwysers verwag word om aktief by fondsinsameling betrokke te wees, selfs al vorm dit nie deel van hul kernpligte as opvoeders nie. Baie onderwysers kan stories vertel van dae waar fondsinsamelingsbedrae in die personeelkamer aangekondig word: ’n warm handeklap vir die klas wat die meeste geld ingesamel het, en ’n ongemaklike aanmaning vir die onderwyser wie se klas min fondse ingebring het.

  • In sommige gevalle betaal onderwysers selfs uit hul eie sak om tekorte aan te vul, bloot om vernedering of konflik te vermy.

Hierdie praktyk het oor jare ’n gevestigde “onderwyskultuur” geword. Dit word dikwels geregverdig met die argument dat skole moet “oorleef” en dat daar eenvoudig nie genoeg fondse beskikbaar is nie. Tog bly die vraag: waarom moet onderwysers en kinders die finansiële probleme van die onderwysstelsel probeer oplos?

Onderwysers word betaal om kinders te onderrig, nie om finansiële tekorte van skole aan te vul nie. Wanneer daar van onderwysers verwag word om kinders aan te moedig om geld te bring, of selfs om self geld by te dra, skep dit spanning, ongelykheid en konflik binne die skoolgemeenskap.

Ter verdediging van die kind: Die pie-video herinner ons ook aan ’n baie belangrike beginsel: kinders moet nooit verneder word oor armoede nie.

  • ’n Kind het geen beheer oor sy of haar ouers se finansiële omstandighede nie.
  • Wanneer ’n kind voor sy klasmaats sit sonder kos of deelname omdat daar nie geld is nie, raak dit sy waardigheid en selfbeeld.
  • Sulke ervarings kan ’n blywende indruk op ’n kind laat.

Onderwysers het ’n morele plig om kinders se waardigheid te beskerm. In ’n situasie soos dié sou ’n diskrete oplossing waarskynlik die beste gewees het: om die kind stilweg te help sonder om hom voor ander leerders bloot te stel, en later privaat met die ouers te praat.

Baie onderwysers sou waarskynlik self die klein bedrag betaal het net om die kind se waardigheid te beskerm. Tog wys hierdie situasie dat individuele optrede nie die groter sistemiese probleem kan oplos nie.

Mense met meegevoel: Die feit dat mense later meer as dertig duisend rand (R30 000-00+) vir die kind ingesamel het, wys dat baie Suid-Afrikaners steeds groot meegevoel het met kinders wat swaarkry.

  • Dit beklemtoon egter ook dat armoede onder kinders ’n werklike en dringende probleem in ons samelewing bly.

Arm skole wat met gegoede skole vergelyk word: Ons hoor dikwels mense sê: “By die wit skole doen hulle dinge só.” Hierdie tipe vergelykings beïnvloed ook dikwels die houding van onderwysleiers en owerhede.

  • Die gevolg is dat armer skole voortdurend onder druk geplaas word om soos meer gegoede skole te funksioneer en dieselfde akademiese resultate te lewer.
  • Hierdie vergelyking is egter sosiaal onbillik en ignoreer die groot verskille in hulpbronne en omstandighede tussen skole en hul gemeenskappe.

Die plig van die Onderwysdepartement: Die kernvraag bly: waarom moet skole voortdurend fondsinsameling doen om basiese dinge te finansier?

  • Belastingbetalers, waarvan onderwysers en ouers deel is, betaal dan reeds vir ’n openbare onderwysstelsel.
  • Onderwysers behoort nie gedwing te word om skoolbegrotings met fondsinsameling en persoonlike geld aan te vul nie. Wanneer dit gebeur, plaas dit onnodige druk op onderwysers, ouers en leerders.

Die oplossing: Die huidige situasie moet ’n les wees vir die hele onderwysstelsel.

  1. Onderwysbeleid moet dit duidelik stel dat onderwysers nie verplig kan word om aan fondsinsameling deel te neem nie. Dit is die onderwysowerhede nie bereid om te sê nie.
  2. Fondsinsamelingsaktiwiteite moet ook nooit kinders verneder of uitsluit nie. In baie skole is ouers afwesig tydens fondinsamelings projekte.
  3. Meer onderwysers moet bereid wees om openlik vir hul professionele regte op te staan en die kultuur van gedwonge fondsinsameling te bevraagteken. Te veel onderwysers verwag iemand anders moet vir hulle opstaan en baklei, maar hulle wil die voordele geniet.
  4. Kinders moet nooit die skuld dra vir finansiële probleme wat buite hul beheer is nie.
  5. Onderwysersunies doen steeds te min om die regte van onderwysers in die klaskamer werklik te beskerm, ten spyte daarvan dat hulle maandeliks ledegeld ontvang. Sommige unies neig selfs om te gemaklik aan die kant van die werkgewer te staan.
  • Daar is egter ook rolspelers wat hul eie bevorderingsmoontlikhede vooropstel en daarom verkies om nie aan die ongewilde kant van die onderwysdepartement te beland nie. In die proses versuim hulle om ernstig en onverskrokke vir onderwysers se regte te baklei, juis wanneer dit die nodigste is.

Slotsom: Die fokus van skole moet weer geplaas word waar dit hoort, naamlik om kinders te leer en hul waardigheid te beskerm.

  • Glen Snyman is afgetrede onderwyser, burgerregte-aktivis, outeur en jarelange verteenwoordiger vir die NAPTOSA-onderwysersunie.
Leave a Reply