Die dood van Neo Cornelius: ‘Weet julle mense wat dit is om te sien hoe tap die lewe uit ’n kind uit?’
Agterna beskou, was dit ’n afgryslike tragedie wat verlede Donderdag op die Overbergse dorpie Caledon afgespeel het toe ’n skraal hoërskoolseun die agtermiddag – amper soos in ’n rillerfliek van minder as één minuut – deur ’n mede-leerder doodgery is.
Wat gebeur toe daarna? Die verhaal word aan Mondstuk Media vertel deur ’n ooggetuie, mev. Delia Swart, wat Neo Cornelius (15) se laaste, pynlike oomblikke met hom meegemaak het.
’N OOGGETUIE VERTEL: Die skok het haar die volgende dag getref, teen die vroeë oggendure. Toe moes mev. Delia Swart dokter toe. Toe sink die vorige dag se gebeure eers by haar in. Dit kon haar kleinkind gewees het, wat tog so lief is om daar by die hek te staan voor haar woning in Ravenstraat in die Bergsig-woonbuurt, waarteen die doodsbakkie verlede Donderdag “so half vier se kant” vasgejaag het; of die bakkie sou selfs haar broer kon getref het, wat smiddae dié tyd op sy gebruiklike staptog gaan. Haar broer was pas terug. “So dit kon een van my familielede gewees het – en dan wat sou ek gedoen het?”
Wat sy toe genoop was om te moes doen, was op ’n manier doodsbegeleiding vir ’n jong seun wat oomblikke tevore saam met twee maats op pad huis toe was, letterlik om die draai van waar die tragiese ongeluk plaasgevind het. Tot in haar diepste wese geskok, het mev. Swart gesien hoe die liggaam van Neo Cornelius (15) te voorskyn kom toe die bestuurder die bakkie in trurat plaas. Hy is teen die hek vasgepen; Terenice Brinkhuys, in gr. 9, is skraps geraak en het haar weens skok oor die pad gehaas; Chelston, 16 jaar oud en in gr.8, het wonderbaarlik ontkom, wou sy vriend ophelp, maar mev. Swart het hom afgeraai omdat dit onduidelik was hoe erg Neo beseer was.
Nou is Chelston soos iemand wat te bang is om saans te gaan slaap, amper asof hy bang is om sy oë toe te maak. “Ek dink dan sien hy die hele gebeurtenis afspeel voor hom,” sê ’n familielid aan Mondstuk Media, “so hy gaan slaap laat saans.”
Mev. Swart vertel verder. Die mense, bure en omstanders, het gou in hordes saamgedrom. “Neo het twee keer probeer om op te staan, maar hy kon nie. Dit was te seer,” sê sy. “En ek het probeer om hom kalm en wakker te hou en ek het gesê: ‘Seuna, die ambulans is op pad, maak oop jou oë, haal asem.’” Dan spreek sy tot diegene wat na die video-onderhoud kyk wat Mondstuk Media met haar voer: “Weet julle mense wat dit is om te sien hoe tap die lewe uit ’n kind uit? (…) Hy kon nie praat nie. Die bloed het net uit sy mond uit gestroom.”
Die polisie het naderhand opgedaag; die ambulans het ’n bietjie lank gevat.
“En ek sê, [ek] skree: ‘Mense, die kind haal nie meer asem nie’; en die law enforcement-polisievrou kom en sy voel en sy sê: ‘Nee, hy haal asem.’ Ek sê: ‘Hy haal’ie asem’ie. Ambulans het intussen gearriveer en hulle het gevoel … en hulle het vir Neo dood verklaar … op die toneel.”
GEBROKE OUERS: Justin Lombaard is Neo se pa; Merline Cornelius is sy ma. Gebroke ouers wat nou hulself moet probeer troos aan die gedagte dat hulle hom goed groot gemaak het, soos almal getuig wat hom ooit teëgekom het. “Hy was net die mooiste gemanierd,” sê mnr. Lombaard. “Nog nooit het ek iets lelik gehoor van hom nie – en dit maak my baie happy.” In die huldeblyk wat Swartberg Sekondêr op Facebook vir hul ontslape gr. 10-leerder geplaas het, is hy “kosbaar” en “vriendelik” genoem; en “positiewe energie” het hy oral met hom saamgedra.
- Me. Cornelius is “stukkend”; tot Saterdagmiddag by die begrafnis kon sy omtrent nie loop of op haar eie staan nie.
- Mnr. Lombaard was vir presies een jaar terug in sy seun se lewe nadat hy vir ’n paar jaar elders gewerk en gewoon het, deel hy Mondstuk Media mee. “Ons twee het so baie beplan.”

’N GEMEENSKAP ROU: “Dit is so jammer dat soveel mense vir Neo leer ken het deur die insident,” sê ’n onderwyser, mnr. Duncan Plaatjies, by die roudiens in die Holy Trinity Anglikaanse kerk.
- Waaraan hy die afgelope week herinner is, toe hy gevra is om iets oor Neo te kom sê, was dié oulike seun se eerste Power Point-projek nadat mnr. Plaatjies hulle geleer het hoe om die aanbiedingshulpmiddel te gebruik. Neo se projektitel was: “Die lewe van Neo Cornelius”.
“Talle vrae word oor die gebeure gevra en dis okei,” sê eerw. Patty Edwards, wat die diens gelei het. “Ons sal ook nie al die antwoorde kry nie.” Die begrafnisgangers is deur haar aangemoedig om te lewe soos Neo, getrou aan Matteus 5 vers 16. Hulle moes hul lig deur goeie werke voor ander mense laat skyn. Dit is hoe die Vader wat in die hemel is, staan daar geskrywe, verheerlik word. Neo Cornelius, so jonk soos hy was, het geweet hoe om dit te doen.
