Wil jy weet wie jou voorgeslagte is? Aubrey Springveldt, afstammeling van slawe, help ander om verby doodloopstrate in hul stambome te kom

Dit was by die opvoedkundige en historikus prof. Richard van der Ross dat mnr. Aubrey Springveldt geleer het oor die belangrikheid daarvan om te weet waar jy vandaan kom.

Wat baat dit? Mnr. Springveldt (regs), hier afgeneem saam met mnr. Danie van Wyk van die DAK Netwerk, is die naweek deur dié organisasie erken vir die navorsing waarmee hy al talle bruin mense (én Afrikaners!) gehelp het om hul stambome na te speur. Hy wag om van jou te hoor.

Mnr. Springveldt se DAK Netwerk-toekenning was in die kategorie onderwys met spesiale klem op identiteit en nasiebou. Ander 2025-ontvangers van die vererings, waarmee vyf jaar gelede begin is, was:

  • Die taalkundige en joernalis dr. Anastasia de Vries (postuum) vir die bevordering van Afrikaans;
  • Die rugbyafrigter Alridge Mercuur (ook postuum) vir sport en spesifiek rugby-administrasie;
  • Die digter en gesondheidswerker Petro LM Gordon het erkenning gekry vir haar gemeenskapsdiens en bemagtigingsaksies; en
  • Die veteraan-akteurs Fahruq Valley Omar en Natalia da Rocha is beide vir hul lewenslange bydraes in kuns en kultuur vereer.

Waarom hierdie toekennings? het Mondstuk Media die voorsitter van die DAK Netwerk, mnr. Danie van Wyk, gevra. “Die idee het ontstaan uit gesprekke binne die organisasie oor hoe daar erkenning gegee kan word aan persone wat ’n bydrae tot gemeenskapsontwikkeling lewer en in hul onderskeie velde presteer,” sê hy. “Ons het tot op datum reeds 36 mense op dié wyse vereer.”

Mnr. Aubrey Springveldt, stamboom-navorser, met sy DAK Netwerk-bekroning.

Uit die lang lys vorige ontvangers, was die vermaarde kunstenaar Conrad Theys en die vroueregte-aktivis Melene Rossouw ook by Saterdag se funksie by die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Nederlands en Vlaams teenwoordig. Maar terug na mnr. Springveldt. Hy het ’n paar vrae van Mondstuk Media ontvang en dit as volg beantwoord:

Oor die toekenning: Ek het absoluut wonderlik gevoel en ek voel geëerd dat daar mense is wat besef dat hierdie werk so ’n akkolade moet kry. Ek het in 1987 met intensiteit begin om die stamboomnavorsing op ’n wetenskaplike manier te benader.

Oor die reaksie op sy navorsing: Baie mense, veral in ons bruin gemeenskappe, wil graag weet hoe hulle familieverbande in mekaar steek en dan kon ek konsentreer op ons gemengde Khoi, San, slawe en ons koloniale herkoms – en waar ons dink ons het doodloopstrate, daar kon ek krap in kerkargiewe en in ander rekords om te kyk hoe ons mekaar se voorvaders kan opspoor.

Oor die verskil wat sy navorsing aan mense se lewe maak: Wat myself betref, kon ek dan weet waar ék vandaan kom en dit het my geweldige selfvertroue gegee om te aanvaar ek weet waar ek vandaan kom. So niemand kan vir my klassifiseer nie. Ek kan sê wie ek is. Dan het ek ook verder studies gedoen omtrent my Khoi-Khoi herkoms en dan ook my DNS laat doen. En kon vasstel dat daar definitief ook Khoi-Khoi-bloed in my voorgeslag is.

Oor spesifiek wit RSG-luisteraars se terugvoer op sy praatjies oor die geskiedenis van bekende vanne: Baie Afrikaner-individue het hulle waardering uitgespreek en navorsing deur my laat doen en tot die naweek het ek nog navrae gekry en opdragte gekry om verskillende van ons Afrikaner-stamme na te vors.

Oor hoe sy eie stamboom lyk: Jislaaikit, ek het so baie toesprake gehou wat soms twintig minute en soms twee ure duur. My eie stamboom het vir my natuurlik baie groot paaie oopgemaak. Ons het deur die sogenaamde glasplafon gebreek. Ek weet nou dat my vader se kant én my moeder se kant vir soveel geslagte was slawe. Ons het al op die plaas waar Aaron Springveldt in 1818 as ’n slaaf gebore is, daar het ons met die eienaar gaan kennis maak en ons kon ook al daar twee keer reünies gaan hou en in 2018 sy geboorte van 200 jaar gelede daar op die plaas gaan herdenk.

Leave a Reply