Wat gaan ons maak met al die matrieks wat met ’n Baccalaureus-toelating geslaag het? Gee vir hulle werk in die gemeenskap
Julle oom was ’n ruk stil, want ek wou net eers bietjie dink oor die inhoud van die rubriek – en op my ouderdom word daar soms lank gedink oor dinge.
My punt? Ek het Mondstuk gevra of ek nie eerder meer soos ’n adviesrubriek kan skryf nie. Toe sê hulle dit hang van my af.
26.01.2026 | OOM ALSPRAAT: Dis tog vir my lekker om terug te wees – en ek weet nie hoe lank die liewe Vader my nog hier rond wil hê nie. Maar siende dat ek nog hier is, wil ek seker maak dat ek die beste daarvan maak.
So van vandag af deel ek raad uit aan dié wat vra of sommer ongevraagd ook, want ek is mos oud genoeg om voor op die wa te mag wees. Maar wag, laat ek net eers sê dis darem ook nou nie asof ek my lyf Suster Wagner van die ou Rapport-Ekstra wil hou of Antie Mona van die Son nie.
- Stuur julle vrae vir oom Alspraat na info@mondstuk.co.za of WhatsApp dit na 073 388 3672.
Julle kan ook seker gedink het dat een van die eerste sake waaroor ek sal skryf, sal ’n onderwyssaak wees omdat julle oom mos darem sy spore diep in die onderwys getrap het. Ja, veertig jare lank.
Laat ek dan net eers geluk sê aan al die matrieks wat die nasionale senior sertifikaat eksamen met sukses deurgekom het – en nie uitasem soos ek op my dag nie. Geluk ook aan al die gr. 8’s wat hoërskool begin het, die gr. 1’s wat “groot skool” toe is; en ook, ek kan dit mos nie uitlos nie, my kleinkind wat nou in ’n gr. R klas nuwe maatjies maak.
Maar dis oor die matrieks wat julle oom in vandag se rubriek wil stem dik maak:
- Uit die 900 000 wat die eksamen afgelê het, vertel die minister ons met klokke wat lui en vlaggies wat waai, het 656 000 sukses behaal.
- Die minister sê ook verder vir ons, toe hulle daai fênsie besigheid gehou het om die uitslae bekend te maak, alles mooi opgestel vir die show, dat die slagsyfer van 88% die hoogste slaagsyfer nóg is vandat Madiba in 1990 uit die tronk gekom het.
- Uit die 656 000, wat die eksamen suksesvol afgelê het, sê die minister toe verderaan, het 345 000 met ’n Baccalaureus-slaag geslaag. Dit is ook die hoogste aantal in dié kategorie – en hieroor wil julle oom iets meer sê vandag.
Wat ek wil sê, is eintlik iets wat ek wil vra: Waar op dees aarde gaan al dié Baccalaureus-presteerders, ons bogemiddelde suksesvolles, nou heen? Universiteite en kolleges kan blykbaar net sowat 200 000 nuwe studente inneem, op die meeste, het julle oom iewers gehoor of gelees; en dan is daar nog ander van vorige jare wat ook aansoek gedoen het.
Ons beter die kinders wat nêrens het om te gaan leer nie, in ons gemeenskappe besig hou, want dis rof daar buite, soos hulle sê. Maar ek wou eintlik eers sê dat hierdie oom nooit kon verstaan wanneer dit dan nou uit die mode gegaan het om vir tegniese opleiding te gaan nie. Dis dan hoeka die ambagsmanne wat – sonder formele opleiding – die lekkerste geld verdien, carpenters, plumbers, tilers, as ek nou sommer die rooi taal kan ingooi.
Maar as die kind dan nou nie regtig daarvoor aangelê is nie, laat hulle vrywillige werk in die gemeenskappe doen by skole of kerke of die ouetehuis of die dorpsbiblioteek of enige plek waar daar orde is en hulle ervaring kan opdoen wat hulle op hulle CV’s kan sit.
Want julle oom Alspraat raak diep bekommerd as jongmense so praat van hul CV’s iewers gaan “ingooi” – met niks om van te praat op daai kamstige CV nie.
