Waarom suig bruin gemeenskappe steeds aan die agterspeen? ’n Regter trek sy toga uit en laat lóóp
Die jaarlikse Danny Titus-gedenklesing van die DAK Netwerk is die afgelope naweek in Kuilsrivier deur regter Steven Majiedt van die Konstitusionele Hof gelewer.
Wie was Danny Titus? Dié regsgeleerde en menseregte-kommissaris, wat in September 2020 gesterf het, was ook onder meer ’n taalaktivis en die stigtersvoorsitter van DAK.
NUUSMAKERS | 25.05.2026: Dit is nie elke dag dat ’n regter gehoor word waar hy hom, wég van die regbank, oor landsake uitlaat nie. Maar dit is waarom regter Steven Majiedt se lesing met ’n vrywaring ingelei is, waardeur hy dit duidelik gemaak het dat hy nie namens die Konstitusionele Hof, sy kollegas op die regbank of enige ander organisasie by die DAK-geleentheid gepraat het nie. Hier is drie van die belangrikste punte uit sy toespraak:
- Ons kinders word steeds nie op skool geleer oor inheemse helde, soos die Khoi-ikone Doman, Autshomato en Krotoa, na wie die DAK Netwerk vernoem is nie;
- Suid-Afrika neem op die internasionale verhoog standpunt in vir die menseregte van burgers van ander lande, maar vernalaat in sommige opsigte sy eie mense s’n.
- Die bruin afstammelinge van die inheemse groeperinge – én die taal Afrikaans – hóórt hier.
Eervolle vermelding: Regter Majiedt het gesê dit was vir hom ’n besondere eer en voorreg om die lesing te lewer aangesien hy die “merkwaardige” dr. Titus persoonlik geken het, saam met hom studeer het en ook op ’n keer by die familiewoning in Worcester gaan kuier het.
DAK se doel: Oor die rol wat organisasies, soos DAK in die samelewing speel, het regter Majiedt gesê: “Op ’n tyd wanneer ons vryheidsprojek en, daarmee saam, ons grondwetlike demokratiese droom, erg onder druk is as gevolg van gulsigheid, disfunksionaliteit en identiteit politiek, is DAK ’n skitterende baken van hoop.” In sy daaropvolgende sin het hy nie doekies omgedraai nie:
- “In ’n samelewing waarin minderhede, veral ons bruinmense, steeds sukkel vir erkenning, aanvaarding en geleenthede, het die droom van 26 Junie 1955 by Kliptown, en van 10 Desember 1996 by Sharpeville Stadion (…) klaarblyklik vervaag in ’n illusie.”
- Dit is op dié twee datums waarop onderskeidelik die Vryheidsmanifes en die finale Grondwet van 1996 aanvaar is “met die ryk belofte dat: ‘Suid Afrika behoort aan almal wat daarin woon’ (en die Grondwet voeg by: ‘verenig in ons verskeidenheid’.”

Familiegeskiedenis: Terwyl DAK se naam Khoisan-helde vereer, is dit ’n “skreiende skande” dat die land se kinders “nog steeds nie” oor hierdie “uitmuntende helde en heldinne van ons” geleer word nie. Dit is “nog maar net een verdere afskeping van ons trotse geskiedenis”, sê die regter: “Ek vermeld dit spesifiek as iemand wat afkomstig is vanaf die huwelik eeue gelede van ’n slaaf wat uit Java hier na die Kaap gebring is, en ’n Khoisan-vrou.”
Internasionale aansien: Naas die vermelding van dr. Titus se velerlei prestasies, het regter Majiedt ook sy gehoor daaraan herinner dat dr. Titus se doktorale tesis gehandel het oor die invloed van internasionale menseregtenorme op die Suid-Afrikaanse regstelsel. Dit is belangrik, gegewe ons land se posisie in die internasionale gemeenskap.
- Ten spyte van “fel kritiek en weerstand van veral die VSA en Israel, maar selfs ook van groepe binne in ons eie land”, het die regering dit daarom goed gevind om ’n volksmoordsaak teen Israel aanhangig gemaak. “Dit is ’n morele, beginselvaste standpunt wat onderlê word deur verantwoordelikhede in terme van die internasionale reg,” sê hy. “Uiteraard verdien dit elke regdenkende mens se ondersteuning.”
Maar dit gaan regter Majiedt se verstand te bowe dat die regering standpunt inneem op die internasionale verhoog en nie altyd dieselfde doen “vir ons mense hier by die huis nie”. Die staat strewe – “met soveel oorgawe” en “teen ’n koste van miljoene” – dat die menseregte van Palestynse burgers afgedwing word, “maar vernalaat ons mense hier tuis”.
- “Moord, doodslag, gebrek aan noodsaaklike lewensmiddele en ’n sukkelbestaan is ons armes se voorland te midde van ongekende welvaart en gierigheid van enkeles,” sê die regter.
- En dan vra hy prontuit: “Waarom suig ons vernalate bruin gemeenskappe steeds aan die agterste speen wanneer dit kom by programme vir vooruitgang, werksgeleenthede en opvoedingsprogramme?”
- Dit word deur regter Majiedt as ’n goeie wegspringpunt beskou vir ’n bespreking oor dr. Titus se ander passie, naamlik die Afrikaanse taal. Soos wat dr. Titus gedoen het, “moet ons ook onverspoosd en verbete stry vir Afrikaans se regmatige plek in ons Suid-Afrikaanse samelewing”.
- Die regter glo dr. Titus sou dit nie anders wou hê nie; dat hy per slot van sake “onverpoosd en onversetlik geveg [het] vir die regte van die vertraptes en verdruktes” en dat sy passie vir Afrikaans “onbuigsaam” was.
Onthou-woorde: “Ons hoort hier in hierdie pragtige land. Ons was heel eerste hier,” het regter Majiedt sy lesing afgesluit. “Toe die kolonialiste hul voete hier neersit toe was ons al lankal hier.” Oor Afrikaans voeg hy by: “Ons het die taal help skep. Ons onderdrukking en ons taal word vandag misken.” Die oplossing lê hierin: “Een van my sentrale lewensfilosofeë is dat mens hierdie agteruitstoot van ons geboorteregte beveg op die beste manier moontlik: deur aan te hou om hulle te wys waartoe ons in staat is.”
- Dr. Danfred James Titus was die vaandeldraer, sê die regter oor sy oud-studentemaat: “Ons moet nou daardie edele werk voortsit,” het hy die gehoor by die gedenklesing aangemoedig.
