Solank as wat hy lewe in dié dal van genade, sal oom Alspraat sorg dat Afrikaans ouer word as wat hy én die taal tesame is

Ons is da’ma’ bederf hier in die beskutting van die dal van genade en die dal van die Afrikaanse taal, waar julle oom Alspraat sy dae omsit en mense dophou en homself toets oor wat hy nog alles kan onthou uit tye wat verby gegaan het. Maar een ding wat ek dink ons hier in Genaal nie oor hoef te worry nie, is oor die agteruitgang van Afrikaans en Engels wat altyd wil oorvat, maar die Afrikaanse Taalraad en die FW de Klerk-stigting, elkeen apart, sê dan nou ons moet wakker slaap daaroor.

Die ding van nie dinge onthou nie of oefen om dit te onthou, is iets wat julle oom geleer het toe Kuier-tydskrif – was dit laasjaar? – met Errol Tobias, ons eerste bruin Springbok, gepraat het. Laat ons gou dit afhandel voordat julle oom weer afdwaal. Wat Errol vir Kuier-tydskrif gesê het, is dat hy sy brein oefen – al van voordat hy in Maart dié jaar 75 op die klok geslaan het – deur aan homself te vra wat hy gister gedoen het en wat hy ’n week terug gedoen het of wat hy die naweek vantevore geëet het. Toe dink julle oom: Aitsa, laat ek dit ook probeer.

Maar mense wat op skinder ingestel is, sal jou wil laat saamlag oor die ou Bok mos nou ook weer loop en pa raak het op 74! Mind you, dis hoeka hoekom Kuier met hom die onderhoud gedoen het. En dis nou al, smaak dit my, wat die mense oor kan praat. Hulle sê hoe gaan hy maak as sy kind die dag matriekafskeid toe moet gaan, twintig jaar van nou af?

Wat maak dit vir hulle saak? Plaas hulle praat van die belaglike ding dat mense hulle in die skuld steek en seker ook die brood en kraggeld gebruik om te sorg dat kinders soos prinse en prinsesse getreat word vir dié se matriekafskeide wat hierdie tyd van die jaar gehou word. Dis net van die beste, hoor! Maar môre-oormôre gaan daar weer niks aan nie en is ook nie asof hulle die kinders met daai selle toegewydheid aanmoedig om vir die eksamen voor te berei of om te gaan leer ná skool nie. Ja, ek sê dit.

Maar, julle, dié oom Alspraat wil ook darem nou nie skynheilig wees en maak of ek dit nie ook geniet het toe ek nog skool gehou het nie. Om die kinders vir een aand in hul skoolloopbaan so te sien shine, is tog iets om te onthou – en vir party is dit ook seker net een keer in hul lewe, as ek nou so kyk na ou Jôhnny oor wie ek julle laasweek vertel het. Maar dit nou daar gelaat.

Hoekom praat die mense nie eerder, het ek nou al gedink, oor hoe goed Errol Tobias lyk vir sy ouderdom en dat hy nog fiks is en elke dag opstaan om sy boeke en rugby memorabilia by die Dassiesfontein-padstal, ha’ tussen Caledon en Botrivier, te gaan verkoop nie? Hy hou kerk. Hy oefen. Hy lees Die Burger verniet by Wimpie, waar die pensioners mos afslag kry. Waar jy hom kry, met sy nuwe jong gesinnetjie, lyk dit ook of dit goed gaan met hulle as jy kyk na “Bokkie”, soos Kuier gesê het hy haar noem, se hare.

Ek kom net te min in die dorp anders het ek mos ook gekwalifiseer vir daai Wimpy discount. Maar, okei, ek doen so min nou se dae wat die oorle’ vrou nie meer hier is om iets saam met my te doen nie dat ek ook nie te veel het om te onthou as ek daai breinoefening van die ou Bok moet doen nie. Ek doen nie veel nie so daar is nie veel om te onthou nie, behalwe dat ek ook op my dag rugby teen hom gespeel het, maar hy wat Errol is, is nog behoorlik aan die go, sê ek jou. Han skryf hy nogal daaroor in Engels op Facebook.

Hy moet nou net nie dat die Afrikaanse Taalraad se mense daarvan hoor nie, want hulle het iemand laat navorsing doen en vir mense gevra of hulle nog Afrikaans praat as hulle in die winkel kom of oor die foon praat of op sosiale media is en so aante; en toe kom die F.W. de Klerk-stigting se mense en hulle sê ook dat hulle ’n verslag opgestel het wat wys dat ons taalregte boer agteruit in ons land.

Ek luister ook maar net met ’n halwe oor na die goed, want hulle praat so vinnig party dae oor die radio en ek koop nie altyd die koerant nie. Maar al wat hierdie oom Alspraat weet, is dat ons hier in die dal Afrikaans oop en toe oë praat en nooit eens dink aan die goed waaroor die slim mense in die verslag op verslag hulle koppe breek nie. Oom Alspraat dink as dit nie vir My Friend was nie, dan was ons hoofstraat ’n EFZ (Engels-vry sone). En so wil dié oom dit hou vir solank as wat hy lewe en tot in lengte van die dal se dae.