So long, Soli, kind vannie Elsies: Enig in julle soort, was julle. Of was julle lewe eintlik maar ’n tragi-komedie gewees?

Mondstuk Media was die eerste nuusplatform wat verlede Woensdagaand op Facebook die dood bekend gemaak het van die akteur, komediant en aktivis Soli Philander.

Wat is nog nie geskryf nie? Soos wat ons inhoudsredakteur, Heindrich Wyngaard, hier uitlig, was Philander se gender-identiteit ’n kwessie wat sommige mense verwar het.

9.03.2026 | STANDPUNTE: Sum 41 is ’n Kanadese rock band wat ek nog nooit van gehoor het voordat ek Saterdagoggend die woorde “so long goodbye” ge-Google het nie. Toe kom ek af op die titel en lirieke van een van hul songs, wat in 2007 uitgereik is. Dis: “So Long Goodbye” op die album Underclass Hero – en ek dink: dat dit net sowel vir Soli geskryf kon wees, hierdie “underclass hero”, wat in 1961 in Elsiesrivier op die Kaapse Vlakte gebore is.

Luister hier na die liedjie: So Long Goodbye (Album Version) – YouTube

Nou punk was Sum 41 se ding, maar dit was nog nooit myne nie. My soort musiekstyl is ballades, saamsing-songs, terugsit en luister – nie opspring en jou kop ruk en pluk nie. Mooi lirieke en rustige klanke, ja.

Die rede hoekom ek daai woorde “so long goodbye” ge-Google het, was omdat ek onthou het dat Madeegha Anders, oorle’ Taliep Petersen se eerste vrou, het ’n song met daai lyntjie gesing in District Six, The Musical, wat Taliep en David Kramer in 1987 op die planke gebring het. Julle sal weet dit was hul eerste musical saam gewees – en een van die kunstenaars wat sy verskyning in die musical gemaak het, glo dit as jy wil, was niemand anders nie as Soli Philander.

Sadly, toe ons die ander dag na die uitstekende “From Hanover Street”-produksie kyk, ’n reminder dat dit nou 60 jaar is vandat Distrik Ses wit geword en windverwaaid gelaat is, het Soli reeds doodsiek gelê. Die afgelope week, so rondom tienuur se kant Woensdagaand, het ons hom verloor. Dit was die eerste keer dat ek uitgevind het sy naam was eintlik “Silamour”.

En Sum 41 se naam was eers “Kaspir”, maar toe verander hulle dit na “Sum 41” om hul eerste 41 somersdae saam as ’n groep te vier. In die Kaap het Soli se somer in die eerste week van herfs geëindig, maar in die laaste klompie jare van sy lewe was dit meestal winter.

Time passes by, sing Sum 41, direction unknown

You’ve left us now, but we’re not alone

Before you know it, your cup’s overflown

You measure no one that I’ve ever known

Noudat hy nie meer hier is nie, word meestal gefokus op sy roemryke loopbaan, wat verder terugstrek as toe ek, daai tyd in standerd ses, hom die eerste keer in District Six, The Musical sien optree het. Wat hy daarna met optredes in verskeie TV- en filmrolle vermag het, het verder tot sy bekendheid en geliefdheid bygedra. In die Afrikaanse vermaakwêreld was dit sy aanbieding van die speletjiesprogram “Liriekeraai” op kykNET wat hom die darling van elke oom en tannie en elke uncle en aunty gemaak het. “Waar’s dit lekker?” het hy lánk voor Emo gevra.

En Soli was ’n lekker mens, maar Soli was ook ’n veelkantige mens. Jy kon hom eintlik nie box nie. Dit het sommige mense verwar. Dit het gemaak dat ander hom veroordeel het daaroor. ’n Mens moet daarom terugkeer na die draaipunt in sy lewe: die draaipunt was toe hy ná ’n huwelik van dekades lank met Toni sy eie rigting ingeslaan het.

Hierna het hy homself openlik begin uitleef as ’n lid van die LGBTIQA+ gemeenskap en het hy ’n kampvegter en stem geword vir mense soos hy en ook arm, daklose en stemlose mense. Die burgerregte-organisasie Kaapse Forum het hom in ’n mediaverklaring hieroor gehuldig, maar ander het hom selfs ná sy dood as “confused” uitgekryt.

Wat opvallend was, in die familie se amptelike aankondiging van Soli se afsterwe, is daar na hom as “hulle” verwys is – die voornaamwoord (of “pronoun”) waardeur hy homself geïdentifiseer het. Maar dit was nie alombekend nie en hy sou nooit daarop aandring dat ander hom so moes noem nie, verneem ek van sy vriende Noel en Juanita Oostendorp. “Wat maak dit saak?” sou hy op ’n keer reageer in reaksie op iemand se vraag oor sy gender-identiteit.

En dit was Soli óók, alles ineen: Beslis nie op hulle mond geval nie; diepsinnig én snaaks (soos in funny én vreemd of ánders). ’n Mens met ’n omgee-hart; en gewis ook soms ’n gebroke hart. En einde ten laas, hul lewe volledig in ag genome, ’n tragi-komedie van ’n ongelooflik talentvolle individu.

And it’s quite all right, sing Sum 41 ook:

And goodbye for now

Just look up to the stars and believe who you are

‘Cause it’s quite all right

And so long, goodbye

  • Soli Philander se begrafnis vind komende Saterdag, 14 Maart, om 11vm. by die Nuwe Apostoliese Kerk in Durant Road, Athlone, plaas. Dit word gevolg deur ’n privat verassing.
Leave a Reply