Past. Charlton se boek oor ‘die heilige ekonomie’ gaan jou denke oor vriendskap en besigheid beïnvloed
Past. Charlton Swigelaar, ’n bekende geestelike en gemeenskapsleier aan die Weskus, het op Facebook ’n pleidooi aan die publiek gelewer om hom te help om sy eerste boek te befonds.
Waarom dié ongewone stap? Die skryf van die boek, getiteld “The Sacred Economy”, is vir hom ’n heilige roepingsdaad, wat met die wêreld gedeel moet word.
Die oorspronklike titel sou wees “Divine Connections for Holy Assignments”, maar dit was bietjie van ’n langdradigheid en nie heeltemal so inspirerend of “catchy” soos wat ’n mens dit wil hê nie, erken past. Swigelaar self. Toe raak dit “The Sacred Economy”, waardeur hy dieper delf in die “heiligheid” van persoonlike verhoudings en die konneksies wat ons met mekaar verbind.
Wanneer jy die boek in die hande kry en lees, is jy gewaarborg dat jy minstens drie kernlesse uit die pen en denke van die skrywer sal leer:
- Die eerste les is: “Om suksesvol in besigheid en in jou persoonlike lewe te wees, hoef jy nie te glo in die ‘dog-eats-dog’-scenario nie. Die essensie van sukses lê in goeie gestruktureerde vriendskappe,” sê past. Swigelaar.
- Die tweede les sluit by les een aan: “Vriendskappe moet deurlopend onderhou word.”
- Die derde les: “Net soos geld die ekonomie aan die gang hou, net so is dit vriendskapsnetwerke wat besigheid en persoonlike suksesse aan die gang hou.”
’n Stap terug: Past. Swigelaar wou eintlik (eers) ’n versameling publiseer van die tussen 600 en 1 000 preke wat hy al oor sowat twee dekades gelewer het. “So in my agterkop wou ek graag oor my ‘journey’ skryf. Snaaks genoeg het hierdie boek egter niks daarmee te doen nie,” sê hy. “Ek het ’n ingewing gekry en daarop gereageer. Daardie ‘ingewing’ het gemaak dat dit my presies twee weke geneem het om die manuskrip klaar te maak.”
Maar wie is hierdie man met die naam Charlton Swigelaar?
- Boorling van Oudtshoorn, waar die van Swigelaar nogal waarde en respek dra; op 14 saam met sy familie na Atlantis getrek en by Atlantis Senior Sekondêr gematrikuleer.
- Wat behoort ons nog te weet? “Ek is ’n voorstander van gemeenskapsontwikkeling binne kerkverband,” antwoord hy. “Ek is al vir meer as twee dekades besig om God se Woord te verkondig en spits my tans toe op leierskapsontwikkeling binne die kerk. Ek is ook ’n openbare spreker wat op uitnodiging motiveringsessies aanbied.”
- Terwyl hy nou ’n poging aanwend om die hulp van weldoeners te kry om te help dat hy “The Sacred Economy” by die drukkers kan kry, is hy alreeds besig met sy derde manuskrip.
Maar hiervan moet jy veral kennis neem: Behalwe die voorreg dat hy die eerste in sy familie kan word wat dit regkry om ’n boek te publiseer, word past. Swigelaar deur ’n “hoër” vooruitsig gedryf – en dit is om ná publikasie ’n boektoer na die Oos-Kaap, Suid-Kaap en wyer Weskus te onderneem en só die woord (én die Woord) van “die heilige ekonomie” te versprei.
- Kontak hom gerus op hierdie WhatsApp-nommer: 076 992 2068
