Oom Alspraat vra: Wat moet ons vir die kinders sê oor al hierdie verkeerde goete wat so aangaan?
Hierdie hekelrubriek weerspieël die gedagtes van ’n afgetrede oom op ’n sendingstasie, wat dit geniet om die nuus dop te hou. Hy koop nog koerant, luister na die radio en kyk televisie om op hoogte te bly van wat in die wêreld aangaan. Dan dink hy na oor wat aangaan en deel sy gedagtes met ons: soms tong in die kies, soms de duiwel in, maar altyd met omgee in sy hart.
Soms wanneer hierie oom Alspraat van julle sien wat die nuus haal, kom daar by hom ’n gevoel op dat dit seker ook nie altyd ’n slegte idee is dié dat die kinders glo nie meer eintlik in die nuus belangstel nie. Dit was darem maar anders toe ons kinders was, né? Om die koerant vir jou pa te gaan koop, was ’n voorreg. Om saam te kon lees, was – soos die kinnigs nou se dae sê – op ’n annig level.
Gister se Sunday Times kyk ek so van voor af. “All aboard the gravy plane to New York”, lees ek die opskrif, terwyl ek die koerant van die supermark-rak afhaal, langs die Daily Maverick en wat was dit nog? Seker Soccer Laduma. Ek lees die hoofstorie in die ry. ’n Trollie stamp so dan en wan van agter aan my bam. My trollie hou ek stewig vas sodat ek nie aan ander doen wat ek nie aan myself gedoen wil hê nie, want voor my staan ’n vrou. Mind you, agter my ook.
Die berig op die koerant se voorblad vertel hoe lekker dit in New York in Amerika gegaan het toe staatsamptenare daar die 69ste sessie van die Verenigde Nasies se “Commission on the Status of Women” gaan bywoon het. Jong, glo ’n hele 82 van die mense moes na dieselfde ding gaan luister. Hulle moes natuurlik met die aeroplane soontoe en ’n mens moet tog darem eet en drink en slaapplek hê en wanneer ’n mens doer ver is, wil jy seker ook ’n ou geldjie hê om vir die mense by die huis iets saam te bring.
Oom Alspraat weet nie lekker hoe sulke goed werk nie. Ons ryloop darem nie meer hier by ons nie – en waantoe wil jy ook nou gaan as jy afgetree is, maar wanneer daai ry-gees ons beetkry, kan ons ook net so ver van die huis af gaan as wat die ou bietjie petrol sal hou. Annig mense, annig level, sê ek. Die trip om te gaan verneem wat die status van vroue is, kos toe meer as ’n miljoen rand, maar het ek reg gekyk? Daai was net vir een van hulle. Sizakele Magangoe, wat hulle in die berig noem “South Africa’s top social worker”, het R200 000 uitgegee om daar te kom (en seker darem terug ook, anders het die rekening mos aangeloop). Madame moes ook in een van die fênsie-ste hotelle bly en R419 000 betaal vir “transfers” – van waar tot waar of van wat, wil oom Alspraat weet as hy “transfers” reg verstaan? Haar hele rekening was meer as R1 miljoen, en sy was toe maar net ’n week in haar nuwe pos. Wie van ons sal nie soe lekkig verwelkom wil word by ’n nuwe werksplek nie? O, ja – en die groep se rekening? Die koerant kon nie uitvind nie.
Nou wonder oom Alspraat wat leer ons die kinders deur hierie soort ding. “Noem dit op die naam,” hoor ek my oorle’ vrou sê. Ek luister nou nog na haar. “Wat leer ons die kinders deur dié soort uitgevreetgeid, waar ons géén respek het vir die feit dat dit nie ons geld is wat ons so blaas nie, maar die land s’n. Die mense s’n – “en die mense soek kos, klere en blyplek”, het die reggae groep Country Conquerers hier van langsaan in Greyton gesing. Eintlik behoort die geld, as oom Alspraat soe bietjie tegnies mag raak, die handjievol burgers wat belasting betaal, terwyl die grootste gedeelte van die res in die Sassa-lyne staan en die lyn rek homself uit, al langer, al voller, met mense wat van ’n paar honderd rand deur die maand moet kom – R2 300 vir die oumense, soos oom Alspraat, terwyl die res hul monde en hul sakke volprop, vréét so veel hulle kan.
Skuus, julle, oom Alspraat wou nie so ernstig raak teen die einde nie. Dit is veronderstel om ’n hekelrubriek te wees hierie – nog altyd gedink dit is ’n mooi benaming vir ghai maak, die spot dryf, maar tog met die bedoeling om die gevaartekens in ons samelewing uit te wys, julle te laat vrae vra. Ons moet in hierdie tye ons oë wyer ooprek en ons ore skoonspuit en spits.
Oom Alspraat sê: Groete van my stoepie tot julle s’n. Maak van die week wat voorlê, die beste wat jy kan.
