Nou geld die wet van Transvaal by ChatGPT. Adverteerders word nader getrek, maar jy sal jou darem uit dit kan betaal

Ook ChatGPT se eienaars, OpenAI, het nou besluit: “Niks meer vir mahala nie”. Gebruikers gaan begin “betaal” vir die hulp waarvoor hulle vra.

Wat beteken dit? Advertensies gaan een van die dae langs jou “chat” met ChatGPT begin verskyn – en dit gaan beïnvloed word deur die inhoud van jou navraag aan ChatGPT.

In ’n storie die naweek op die webwerf Axios, word geskryf dat OpenAI die aankondiging Vrydag gemaak het. Die nuwe sakeplan gaan glo in die komende weke in Amerika getoets word.

  • Dis nog nie duidelik wanneer die res van die wêreld se “chats” ook deur advertensies vergesel gaan word nie.

Maar, ontspan, julle: Gebruikers word deur OpenAI gerus gestel dat ChatGPT se antwoorde op jou navrae of versoeke nie deur die adverteerders beïnvloed gaan word nie.

  • Die soort advertensies wat by die “chats” geplaas gaan word, sal wel beïnvloed word deur dit waaroor jy vrae aan ChatGPT stel of deur die soort “versoeke” wat jy aan die wêreld se gewildste “chatbot” rig.
  • Die advertensies sal ook “SPONSORED” gemerk word.

Nogtans bestaan daar kommer oor dié verwikkelinge, selfs al was dit lank te verwagte. Die bekommernis gaan onder meer daaroor dat mense baie keer “sensitiewe” inligting – persoonlik en emosioneel – met die ‘chatbot” deel.

  • Persoonlike data van gebruikers sal nie met die “chatbot” gedeel word nie, het OpenAI ook reeds belowe.

Maak jou somme: Axios se storie verwys daarna dat OpenAI in September verlede jaar aan beleggers gesê het dat hulle maklik in die omtes van $115 miljard tot die jaar 2030 kan uitgee. Ten minste $1.4 triljoen gaan boonop aan datasentrums en ander tegno-infrastruktuur bestee word.

Die maatskappy moet dus een of ander tyd op een of ander manier geld begin terugmaak. Die instelling van advertensies by “chats”, is die begin daarvan.

  • Goeie nuus: Indien jy nie advertensies wil sien nie, kan jy altyd “opgradeer” – waarvoor jy natuurlik sal moet uithaal en betaal.

NOTA AAN MONDSTUK MEDIA SE LESERS: Jy kan ons werk ondersteun deur donasies aan ons te maak sodat ons jou nie die stories tussen advertensies moet laat soek om ons maandelikse uitgawes te kan dek nie. KLIEK HIER

Leave a Reply