’n Dogter pleeg selfdood. Hoekom is mense kwaad vir Mondstuk? ‘Want ons leef in ontkenning,’ sê dié opvoedkundige sielkundige
Ons storie oor die tragiese selfdood van Conray du Plessis, ’n gr. 11-leerder aan Emil Weder Hoërskool op Genadendal, is met simpatie én kritiek begroet.
Wat sê die kenners? Die opvoedkundige sielkundige QUINTON ADAMS sê ons beter tyd maak om méér na jongmense te luister en ons moet ophou om in ontkenning te leef.
Die meeste mense ken seker vir Quinton Adams as “The Shackbuilder”, ’n inisiatief waardeur hy meer waardige blyplekke vir mense in informele nedersettings help bou. Die inisiatief het intussen gegroei tot ’n opleidingsprojek om jong mense in behoeftige gemeenskappe te help om konstruksievaardighede aan te leer. Hiervoor kry mnr. Adams gereeld die erkenning wat hom toekom.
Maar dit is in sy hoedanigheid as ’n opvoedkundige sielkundige dat sy stem in vandag se uitgawe van Mondstuk Media gehoor word. Ons het hom genader om ons te help sin maak oor die ontstoke wyse waarop sommige mense op ons storie oor die selfdood van Conray du Plessis gereageer het. Hier is ’n voorbeeld van ’n boodskap wat na ons WhatsApp-nommer gestuur is:

Mnr. Adams sê daar is gewoonlik enkele vooraf-faktore wat aanleiding tot selfdood onder jongmense gee; dan gebeur daar iets of iets word aan die kind gesê wat hom of haar oor die wal stoot.
Navorsing wat hy in 2020 in Calvinia in die Noord-Kaap gedoen het – nadat twee jongmense binne een week hul eie lewe geneem het en ’n derde ook gepoog het – het begin met ’n eenvoudige vraag: “Met wie praat jy as jy deur ’n moeilike tyd gaan?”
Die antwoorde het gewissel van “my vriendin”/vriend; ’n klein persentasie het gesê “met my ma”; en derdens was die antwoord dat hulle “met ’n vertroueling” praat. Wat vir hom uitgestaan het, was dat geen van die kinders wat aan die opname deelgeneem het, met hul pa’s praat wanneer dit moeilik gaan nie.
Gevallestudies: In een geval waarvan mnr. Adams bewus is – hierdie was nie op Calvinia nie – was ’n meisie se ouers nie tevrede met haar keuse vir ’n kêrel nie: “Haar pa het gesê hy ken haar nie meer nie. Haar ma het haar geklap.” Die meisie bel toe haar kêrel om haar te kom haal en op pad na haar toe sterf hy in ’n bendeskietery. “Onmiddellik het ’n skuldgevoel haar binnegedring, want sy het gevoel dat as sy hom nie gevra het oom haar te kom haal nie, sou hy nog gelewe het.”
- Dit is ’n tipiese voorbeeld van waar iemand ’n einde aan hul eie lewe kan bring omdat hulle nie met die skuldgevoel kan saamleef nie. Of niemand het met wie hulle voel hulle kan daaroor praat nie.
Mnr. Adams sê selfdood is ’n simptoom van “sistemiese disintegrasie” waarteen jongmense in hul lewens ’n stryd voer. “Ons het dikwels nie ’n vae idee waarmee hulle deal nie.”
Ongemaklike waarheid: Oor die kritiek wat na Mondstuk Media geslinger is nadat ons die storie van Conray du Plessis op Facebook geplaas het, sê mnr. Adams: “Mense gaan met die aanhoor van sulke nuus in ontkenning.” Dit is hul “grootste defence”, sê hy. “Of hulle wil nie eienaarskap neem vir die gebeure nie. Hulle ontken die gebeure en verplaas die blaam. [Die boodskapper] word dan die skurk in die verhaal.”
- Die beste wat volwassenes kan doen, meen mnr. Adams, is om tyd te maak “om na hulle [kinders en jongmense] te luister!”
