Maandagsout: Die simboliese waarde van die syfer 10 gee vir Mondstuk Media rede om ’n klein oorwinning te vier

Uit die hele aantal waardevolle wenke wat verlede week met ons gedeel is deur die onderwysman Graeme de Bruyn, een van ons skerpste potlode in die pakkie, staan drie woorde uit: “vier klein oorwinnings”.

Waarom haal ons dit nou weer op? Omdat Mondstuk Media se tiende uitgawe vandag geplaas word en ons dit vier omdat ons stigter, Heindrich Wyngaard, weet hoeveel sweet en vasbyt dit gekos het om deur die platform by dié betekenisse van 10 uit te kom: “harmonie”, “balans” en “begin”.

Die drie woorde-wenk was verlede week deel van Graeme de Bruyn se aansporing aan ons om anders na gr. 12 en die gepaardgaande afsluitingseksamen aan die einde van die jaar te kyk. Ons moet, oorhoofs, begin om die eksamen te beskou, te aanskou, te omhels, as ek De Bruyn reg verstaan het, “as ’n gemeenskapsritueel van hoop, herinnering en erkenning”.

LEES WAT HY GESKRYF HET: Het jy al só aan die matrieks se eindeksamen gedink?

Rituele word weliswaar soms bespot, soos koordans in die pinksterkerk, maar dit is kortsigtig as jy jouself in dié geval daaraan skuldig maak.

  • Dit is dikwels deur ghai maak, glo ek, dat ons gebrek ly daaraan om wys te raak – en sin te maak.

Persoonlik heg ek daarom baie waarde aan die spesifieke wenk wat ’n kardinale rol in De Bruyn se kopskuif-meningstuk gespeel het, saam met ’n klomp ander, natuurlik. Die wenk was eenvoudig: “vier klein oorwinnings”. Met ander woorde: Celebrate dit wat jy kan, hoe klein die oorwinning of die prestasie ook al is. Dit is jou reg, maar nie net jou reg nie, ook jou plig, in gemeenskappe waar prestasies pynlik skaars kan wees en die erkenning daarvan soms maar moeilik uit sommige monde kom.

Ons by Mondstuk Media gee vandag gehoor daaraan deur die verskyning van ons tiende uitgawe te vier. Jy kan op twee maniere daarna kyk. Jy kan sinies vra: “Nét maar tien uitgawes?” of jy kan opgewonde uitroep: “Sjoe, al tién uitgawes!” Dit is op die laaste stelling waar ek graag die klem wil plaas – en laat ek verduidelik waarom: Ons gemeenskappe word dikwels aan bande gelê deur mismoedigheid en deur ander wat jou afraai om dinge te waag.

Die omvang van dié gees van lae vertroue en ongeloof, loop wyd rond. Ons glo nie in mekaar nie – en ons glo ook nie in mekaar se drome nie. Ons sien altyd eers die probleem, die hekkie, die struikelblok, die moeite wat dit gaan verg om die droom te bewaarheid. Los maar, man, want wie dink jy gaan jou ondersteun? Wie gaan by jou koop? Wie gaan jou song download? Wie gaan jou aanlynpublikasie lees?

Self is ek toe ook vir lank teruggehou daarvan om ’n eie publikasie te begin. Okei, laat ek net eers bely dat die sonde van “procrastination” – uitstel, uitstel, uitstel – ook ’n rol gespeel het. Maar, feit is, geld is mos altyd die eerste of grootste uitdaging. In die tweede plek die feit dat ’n mens dalk ’n vaste werk het en die droom in jou vrye tyd sal moet najaag. In die derde plek is daar die doemprofete, soos reeds verwys, wat alewig weet te vertel hoedat jou plan bitter moeilik teen die heuwel gaan kan uitklim.

Dit is seker hoekom slimmer mense sê jy moet jou kaarte styf teen jou bors hou. Doen net jou ding stilletjies, sê hulle. Moet vir niemand daarvan sê nie. Sê, as jy moet, net vir jou grootste vertroueling, maar soms kan dié enigste een vir wie jy dit vertel ook nie help om dit vir iemand anders oor te vertel nie, want ons almal het iemand wat ons die meeste vertrou en daai persoon het ook so iemand.

En so was Mondstuk Media jare aan die kom, afgesit deur ander en uitgestel deur die self. Die platform is gebou en het letterlik gestaan en wag vir beter dae. Teen die tyd dat ons begin het, moes daar toe al weer verstellings deur die webontwerper, Schalk Joubert van ThisSideUp Media, aan die platform gemaak word. Toe moes ’n grafiese ontwerper gevind word. ’n Vergadering oor aandeelhouers en begunstigdes in ’n vrugteplaas het toe op ’n ander manier vrugte gedra toe die vergadermaat noem dat sy dogter pas haar eie grafiese ontwerp-besigheid begin het. Dit was soos manna uit die Vyeboom-omgewing. Chanté Prigra van 7SALT-agenskap het onmiddellik gesnap wat Mondstuk Media wil wees en móét wees.

Sonder stories sou ons egter nie op 1 September ons eerste uitgawe kon uitbring nie. Sonder skrywers kan daar ook nie stories wees nie. Terloops, nie eens ChatGPT of enige ander sulke kunsmatige intelligensie-sagteware kan dit op hul eie doen nie. Jy moet nog steeds ’n versoek intik: Skryf vir my ’n storie van soveel woorde oor ’n voorval waar ’n man uit ’n boom val omdat hy die kat uit die boom wou haal. Die kat moet ’n wyfie wees. Die man is skraal gebou.

Teen die tyd dat ons vyf uitgawes gelaai het, het ek persoonlik gemeen ons is goed op pad – en net omdat ek persoonlik geweet het watter mate van energie, moeite, vasbyt en gebed nodig was om by daardie punt te kom. Klein begin is niemand se speelmaat nie. In die tussentyd, is ons al gedreig met regstappe deur die voorsitter van ’n rugbyklub; breek ons nuus op Facebook; en word daar al na ons stigter as “Mnr. Mondstuk” verwys. Dit kan net wees omdat mense van ons begin kennis neem het en dat mense waardeer wat ons probeer doen: stem gee aan die stemloses wat hul stem verloor het van generasies se gesoebat om ernstig opgeneem te word of wat stil gehou word deur “die system” of die samelewing.

Hierdie week verskyn ons TIENDE uitgawe. Tien is maar twee hande vol. Twee hande vol is baie as jy dit nie meet aan hoeveel vingers jy aan daai twee hande het nie, maar aan alles wat jy met daai twee hande moes doen om die tien uitgawes moontlik te maak. Soms beplan jy alles vooruit en dan werk dit nie so uit nie. Ordentlike foto’s maak die voorblad en om dit in die hande te kry, kan ’n storie op sy eie raak: byvoorbeeld, ons voorblad hierdie week het ’n selfie op wat mnr. Peter Marais van hom en sy vrou, Bonita, geneem het. Dit was toe die beste keuse uit al die foto’s wat hy vir ons aangestuur het, want dan is dit te ver geneem, dan is hom en aunty Bonnie se brille donker of dan is die kombuiskaste in die pad.

So al wat ons vandag met hierdie skrywe wil sê, is dat ons die liewe Heer dank vir sy ongelooflike genade wat dit vir ons moontlik gemaak het om nou by tien uitgawes van Mondstuk Media uit te kom. Die pad vorentoe is lank en steil, maar ons sien kans daarvoor, aangedryf deur dit wat tot Mondstuk se stigting gelei het. Wat was dit? Dit was die ervaring by bruin verbruikers van bestaande Afrikaanse mediaplatforms – koerante, tydskrifte, radio, TV en aanlyn – dat hulle nie heeltemal daardeur bevredig of gediens word nie. Om die ervaring van Afrikaanssprekende bruin mediaverbruikers te help aanspreek, het ons toe met ’n tong-in-die-kies-gesegde vorendag gekom: “Ons sien wat ander nie sien nie,” sê ons. “Ons skryf wat ander nie rapporteer nie.”

Wat bruin Afrikaanssprekende mediaverbruikers kry, in die meeste gevalle, is kwaliteit-inhoud, ja, maar dit is nie altyd inhoud wat tot hulle spreek nie, wat die volle omvang van hul daaglikse lewenservarings deel of op ’n getroue wyse weergee nie. Soms is dit net sensasie en skande; soms tog wel prestasie, maar sonder om dieper te delf daarin. Ons wil praat soos ons praat, is die eerste punt, wanneer jy oor ons skryf. Dit poog Mondstuk Media om regdeur ons aanbod reg te kry – vanaf ons opskrifte tot met die inhoud van ons stories. Ons doelwit is ook om die stories relevant en kort genoeg te hou sodat dit vinnig gelees kan word.

Julle wat nou hier lees, is die soort mense wat ons wil bereik – mense wat belangstel in wat rondom hulle aangaan en hoe dit hulle raak. Maar ook mense wat nie bang is om hulle hande vuil te maak om oplossings te soek vir die ellende wat soos onkruid in ons buurte groei nie. Julle help só die gemeenskap en vir Mondstuk om ons op die pad te hou, om ons ’n hupstoot te gee, moed in te praat om aan te hou en uit te hou.

Nou vra ons julle mooi om ook vir ander mense te vertel van hierdie spreekbuis vir gewone mense in gemeenskappe wat ook saak maak, al word hulle waarde nie altyd gesien nie. En as daar iets oorbly om by te voeg, dan is dit dat Mondstuk Media deel wil hê aan Graeme de Bruyn se kopskuif oor die matriekeindeksamen as ’n gemeenskapsritueel van “hoop, herinnering en erkenning”. Soos dit was – onthou julle? – toe ons nog daarna as “standerd tien” verwys het. Ons wil by Mondstuk Media gesien word as die publikasie wat hoop bring, herinneringe opdiep en erkenning gee waar dit gegee moet word – aan diegene wat ons al ontval het en dié wat steeds met ons is.

Die simboliese betekenis van die syfer TIEN sluit fantasties by die versteekte elemente van Mondstuk Media se roeping aan: “Harmonie, balans, voltooiing, orde, begin.”

  • Heindrich Wyngaard is die stigter en inhoudshoof van Mondstuk Media. Hy is ook uitvoerende voorsitter van die burgerregte-organisasie Kaapse Forum.

 

Leave a Reply