Julian Hails (75) het weens die aardbewing van 1969 in Ceres beland. Amper sestig jaar daarna werk hy nog steeds om skade op dié dorp te herstel

Die verwoesting was enorm, onthou die gemeenskapsleier Julian Hails oor die prentjie wat hom begroet het toe hy in 1969 as ’n jong volwassene saam met kollegas uit Grahamstad op Ceres aankom om te help met die herbouproses.

Wat laat hom nou daaraan dink? Dit was verlede maand 56 jaar sedert die aardbewing wat die gebied getref het. Nou betreur hy die feit dat menseverhoudings tussen rassegroepe nog self herbou moet word.

Die aardbewing het ook die omliggende Tulbagh en Wolseley getref en die maatskappy Homescape uit Port Elizabeth het die tender gewen om houthuise, bestand teen aardbewings, te kom oprig. Mnr. Hails was werksaam by die maatskappy.

Naas die verwoesting, en Weermagtente wat as tydelike verblyf vir die geaffekteerde inwoners gedien het, was dit die “uniekheid” van ’n plek wat totaal deur berge omring is, wat mnr. Hails en sy kollegas getref het.

  • Hy sê: “Die verwoesting wat ons aanskou het, was enorm. Sekere geboue was totaal plat met die aarde. Vir my persoonlik was dit onwerklik. Dit het gevoel asof ek in ’n ander land is. Dit was baie hartseer om te sien dat pragtige huise in ’n oogwink so vernietig kon word. So daar het ’n baie groot taak op ons gewag om die gebied weer leefbaar te maak.”
  • Hails is steeds bly dat hy deel van die proses kon wees. “Ons was baie in ons skik met die oprigting van nuwe woonhuise vir van die inwoners. Die blydskap in hulle gesigte was onvergeetlik sodra ons ’n eenheid aan die owerhede oorhandig het.”

Die Homescape-span het gedurende hul verblyf op die dorp self ’n aardbewing ondervind, ’n ervaring wat mnr. Hails nooit sal vergeet nie:

  • “Dit het gevoel asof ek agterop ’n lorrie sit wat oor ’n pad ry met oppervlakte vol hewige duike,” vertel hy. “Ek het vir ’n musiekgroep, Inkspot, ghitaar gespeel, asook as sanger opgetree. Hierdie voorval het gebeur terwyl ons besig was met oefening. Ons het uitgehardloop – ek nog met ghitaar om die nek, heeltemal vreesbevange…”
  • Die verhaal raak meer intens, dalk ook bisar: “Dit wat ek toe ervaar was skrikwekkend. Berge het gebrand. Alfabetiese vorms was te sien in die vlamme op die berge … ek onthou die letters S, U, M [en] O nog duidelik … Dit was vreeslik – en ek word toe ook nog deur een van die tannies uitgeskel dat ek die duiwel om my nek dra.” Dit was ’n verwysing na sy musiekinstrument. “Ek het onmiddellik my ghitaar op die grond neergesit … deurmekaar, want kort-kort kom daar skuddings … en [jy hoor] die gehuil van kindertjies. Groot vure het gebrand en oral het groepe op hul knieë gegaan om te bid … heelnag deur…”

Rondom die dorp het rotse die bergpasse onbegaanbaar gemaak. Julian Hails is deur sy broers gesoek. Hulle wou hê hy moes saam met hulle vlug. Hulle het gou besef dit sou baie moeilik wees, en toe bly hulle maar en wag dat die storm moet bedaar en dat die bergpasse weer begaanbaar raak.

Mnr. Hails vertel verder dat hy en sy kollegas na die Oos-Kaap teruggekeer het nadat die huisbouprojek afgehandel is. Maar omdat hy iemand spesiaals in Ceres ontmoet het – Katriena was haar naam – en met haar wou trou, het hy die destydse Grahamstad vir die Koue Bokkeveld verruil.

Gou was dit egter vir hom duidelik – noudat strukturele herstelwerk op die dorp gedoen is – dat daar nog baie werk nodig was om menseverhoudings tussen wit en bruin inwoners te bou. “Bruin inwoners het baie min regte gehad en was onderhewig aan die Baas-en-Klaas-beleid. Hierdie houdings van die dorp se meerderheid wit mense het my nie aangegaan nie, want ek het dit nooit ondervind in my geboortedorp nie.”

  • Die aktivis in hom is toe gebore. Wanneer bruin inwoners agterstallig met hul munisipale huurgeld raak, het hy gekeer dat hulle meubels nie uitgesit word nie. Hy het kerk- en skoolleiers deur die stigting van ’n huurdersvereniging byeen gebring en vandag gee hy steeds erkenning aan die ontslape mnr. Deon Adams vir sy aandeel hierin.
  • “Ons het baie sukses behaal en gesorg dat Bella Vista [die bruin buurt] ’n nuwe begraafplaas, asook ’n creche, hoërskool, biblioteek, gemeenskapsaal en kliniek bekom.”

Mnr. Hails se gesprek met Mondstuk Media raak ook aan die persoonlike: In 2012 het hy sy lewensmaat aan die dood afgestaan; sedertdien ook drie dogters (in 2014, 2018 en 2023). “Maar die lewe gaan voort,” sê hy – so asof hy op hierdie oomblik vergeet dat hyself in die onlangse verlede baie siek was, hierdie verskilmaker wat op 75 steeds meer vir ander mense omgee as oor sy eie terugslae in die lewe.

Saam met stigterslede van die Witzenberg Taxpayer’s Association and Ceres Vigilance Association (WTACVA), soos Derrick Mouton, Stephen Williams en Cupido Swarts, veg hy vir die beskerming van die plaaslike gemeenskap “teen uitbuiting deur sommige raadslede wat die plaaslike raad in die verkeerde rigting bestuur”. Nuwe lede van die organisasie se dagbestuur, is Warren Hector, Julleen Schroeder, Ylona Willemse, Warrick Hails en Renaldo van Wyk.

Ten slotte: ’n Mens is nie seker of hy na vandag se uitdagings in die gemeenskap verwys of na herinneringe van 1969 se aardbewing nie wanneer hy teen die einde afsak: “Ons voel nog steeds af en toe van die ligte skuddings wat seker vir altyd sal kop uitsteek.”

Leave a Reply