Jason Lloyd onthou prof. Jakes Gerwel – uit die perspektief van sy kerkverband. Niemand anders het dit al gedoen nie
Prof. Jakes Gerwel (1946-2012) is ’n produk van die plaas Malvern in die Somerset-Oos distrik van die Oos-Kaap. Jason Lloyd, ’n navorser van prof. Gerwel se lewe, meen dit is ewe belangrik om te onthou dat hy in die Congregational Kerk opgegroei het.
Waarom dit nou ophaal? Die komende Vrydag, 28 November, neem ons terug na die dag 13 jaar gelede toe dié akademikus, letterkundige en “dekaan van die staatsdiens” gesterf het.
In lewe was prof. Jakes Gerwel deel van ’n generasie bruin leiers wat deur die Oos-Kaap gekweek is.
- Dié leiers het bekendheid en nasionale aansien verwerf omdat hulle bruin mense aan progressiewe denke en politiek blootgestel het – eie aan die historiese tradisie van die Oos-Kaapse bruin mense – om in solidariteit en menswaardigheid saam met swart mense teen onderdrukking, ongeregtigheid en sogenaamde wit meerderwaardigheid te veg.
Dit is dus glad nie per toeval dat amper al dié Oos-Kaapse bruin leiers soos prof. Gerwel, eerw. Allan Hendrickse, dr. Franklin Sonn en andere produkte van die Congregational Kerk is nie.
Wat moet ’n mens weet van dié kerk? Op Uitenhage, Port Elizabeth en in die meeste Oos-Kaapse dorpe sou die Congregational Kerk oor die jare ʼn bevrydende en progressiewe invloed op die denke en lewens van die bruin gemeenskap hê. Soveel so dat menigte progressiewe bruin mense die teenwoordigheid van wit predikante in die Verenigde Gereformeerde Kerk (VGK) en sy voorloper, die NG Sendingkerk, bevraagteken het.
In sy biografie, Karooseun van Vosburg, wat verlede jaar verskyn het, verwys dr. Sonn na die positiewe invloed wat die Congregrational Kerk op sy ontwikkeling as mens op Queenstown in die Oos-Kaap gehad het:
- “Toe ons in 1951 uit Nuwerus na ʼn groot huis in Greystraat in Queenstown trek, het ons van die NG Sendingkerk (soos die VGK eens bekend gestaan het) na die Congregational Kerk oorgegaan. Reeds hier het ek die geleentheid gekry om my potensiaal as leier te begin ontwikkel.”
- “In Nuwerus was dit gewoonlik wit predikante wat op die kansel was, maar by die Congregational Kerk was dit mense uit die gemeenskap wat gepreek het en in beheer van sake was.”
Prof. Gerwel het op 28 November 2012 ná ’n hartomleidingsoperasie in die Netcare Kuilsrivier-hospitaal in dié noordelike voorstad van Kaapstad gesterf. In sy laaste dae toe hy siek geword het, het hy versoek om ʼn Afrikaanssprekende dokter te raadpleeg.*
Opvoeding en geloof: Sy hoërskooljare het hy op Uitenhage (by Dower Kollege) en in Port Elizabeth (by Paterson Hoërskool), waar hy gematrikuleer het, deurgebring. Sy broer, Ike (wat verlede jaar op Knysna oorlede is), het in die 1980’s skoolhoof van dieselfde skool op Uitenhage geword het, waar prof. Gerwel sy hoërskoolloopbaan begin het. Tydens prof. Gerwel se verblyf en hoërskooljare op Uitenhage was hy ʼn lid van die Dalestraat Congregational Kerk waar eerw. Hendrickse, eertydse leier van die Arbeidersparty, sy predikant was.
- Eerw. Hendrickse was ook prof. Gerwel se onderwyser by Dower Kollege en Paterson Hoërskool.
- Dr. Sonn het my vertel alhoewel prof. Gerwel skerp verskil het met eerw. Hendrickse en die Arbeidersparty se deelname aan die Driekamerparlement, het hulle op ʼn persoonlike vlak ʼn goeie verhouding gehad.
- “Die stormagtige politiek van die 1980’s het geen negatiewe invloed op Jakes en Allan se verhouding gehad nie. Trouens, dit het wedersydse respek en begrip vir mekaar se verskillende uitgangspunte geskep,” het hy aan my gesê.
Franklin en Jakes: Dr. Sonn en prof. Gerwel was destyds onderskeidelik rektor van die Skiereilande Technikon (nou die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie) en die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK). Eerw. Hendrickse was voorsitter van die Ministersraad in die Raad van Verteenwoordigers. Nadat mnr. Carter Ebrahim afgedank is as minister van onderwys en kultuur in die Raad van Verteenwoordigers, het eerw. Hendrickse vir ʼn tydperk – benewens sy voorsitterskap – ook die pos van minister van onderwys en kultuur beklee.
- Nóg ’n vertelling deur dr. Sonn aan my: “Allan was dus ek en Jakes se baas. Wanneer ons hom gaan spreek het, het ons altyd beplan ons wil dit en dat met hom bespreek. Daar was nooit konfrontasie nie. Net respek vir mekaar. Jakes en Allan het oor die ou dae gesels. Oor hul verhouding by die Congregational-kerk en by Dower Kollege en Paterson Hoërskool. Jakes het altyd absolute respek aan Allan betoon deur hom as ‘meneer’ aan te spreek, soos predikante op ʼn respekvolle manier in die bruin gemeenskap bekend staan.”
Die onlangse dood van dr. Sonn (15 November), vroeër van prof. Gerwel (28 November 2012) en ook van eerw. Hendrickse (16 Maart 2005) bring dus ʼn einde aan ’n generasie van invloedryke bruin leiers wat deur die Oos-Kaap en die Congregational Kerk gekweek is.
Toekomswaarde: Dié (bruin) leiers was almal in hul leeftyd op ʼn filosofiese en praktiese manier betrokke in die manifestasie van die droom van vryheid en menswaardigheid vir alle onderdruktes, maar ook die verdrukkers.
- Jason Lloyd is ’n sosio-politieke kommentator.
(*Mondstuk Media beskou dié vertelling oor prof. Gerwel se laaste dae as ’n bevestiging van dié doktor in die letterkunde se liefde vir sy moedertaal. Die wyse waarop prof. Gerwel ook later sy rol as kantoorhoof vir oudpres. Nelson Mandela vertolk het, het die ANC-veteraan Joel Netshitenzhe na hom laat verwys as “die dekaan van die staatsdiens”.)
