EKSKLUSIEF: Chad Louw se nuutgestigte People’s Prosperity Movement vind tuiste by Mmusi Maimane se BOSA

Slegs maande nadat die PPM deur Chad Louw en Curt van Heerden gestig is, word dit nou glo deel van Mmusi Maimane se Build One South Africa-party.

Waarom is dit belangrik? Die skuif is ’n reddingsboei vir die PPM en beteken ’n moontlike groter voetspoor vir BOSA, spesifiek in die Wes-Kaap. ’n Aankondiging word môre verwag.

13.04.2026 | POLITIEK: Spekulasie het vanmiddag ontstaan oor wie die “nuwe politieke party” is wat môre by ’n nuuskonferensie op die trappe van die Parlement aangekondig gaan word as ’n nuwe toevoeging tot BOSA.

  • Navrae deur Mondstuk Media het aan die lig gebring dat dit die PPM is. Die party wou dit nie bevestig of ontken nie.
  • Gesprekke duur glo al geruime tyd tussen dr. Maimane, voormalige nasionale DA-leier, en mnr. Louw, wat voorheen ANC-burgemeester op Oudtshoorn was.
  • Na verneem word, het dit momentum gekry nadat onderhandelings met die People’s Movement for Change van Marius Fransman misluk het.
  • Fransman, wat eens ANC-leier in die Wes-Kaap was, het dit wel reggekry om mnr. Louw se PPM-vennoot, past. Curt van Heerden, te oorreed om by die PMC aan te sluit.

‘Unite for Change’: Die nuus, wat om 11:00 môre by die Nasionale Raad van Provinsies-gebou amptelik aangekondig gaan word, volg nadat BOSA, Good van Patricia de Lille en Rise Mzansi van Songezo Zibi besluit het om nie meer gesamentlik aan die komende plaaslike verkiesing deel te neem nie.

Om die PPM by BOSA te inkorporeer, kan vir BOSA ’n groter voetspoor in spesifiek die landelike gebiede van die Wes-Kaap beteken. Mnr. Louw het nadat hy die ANC verlaat het vir ’n wyle vir die Patriotic Alliance gewerk. Dit beteken hy kan nou waardevolle insigte uit daardie ervaring en ook sy ANC-dae ter bevordering van BOSA inspan.

  • Mnr. Louw sal na verwagting ’n prominente strategiese rol in BOSA gegee word in ruil vir dié stap wat hy nou neem.
Leave a Reply