‘Ek is n kleurling vrou van Blomnekweg Plakkerskamp De Rust. Ek het in Maart 2025 besleit no gaan ek my skooltjie begin kom wat wil en so het ek begin met die Hulp van die Here.’

Die gebou waarin Fredericka Plaatjies haar kleuterskool in De Rust, anderkant Oudtshoorn in die Klein-Karoo, begin het, was eens ’n lykshuis. Hier gee sy nou kindertjies ’n kans op ’n beter lewe.

Wat noem sy die skooltjie? Klein Kaboutertjies. Omdat die meeste kinders tussen een en vyf jaar oud is, letter klein kaboutertjies, sê sy.

Haar droom van ’n eie skooltjie begin, is gebore terwyl sy by die plaaslike Elim-creché gewerk het – eers as kok en toe as opvoeder (nadat sy haar ECD-vlak 4 en 5-studies by Suid-Kaap kollege in Oudtshoorn voltooi het). “Ek het besef hoe wonderlik dit is om met kinders te werk en net die feit dat elke oggend begin ons met oggendkring, waar ons die kinders laat liedjies sing van Jesus, bid, Bybel lees. Jou dag begin goed,” vertel mev. Plaatjies.

  • Drie jaar lank worstel sy toe met die gedagte om haar eie skooltjie te begin. Die gebou waarin Klein Kaboutertjies nou geleë is, het drie gedaanteverwisselings ondergaan van lykshuis tot kerk tot kleuterskool.
  • Hoeveel geld moes sy uitgee om die plek gereed te kry, wou Mondstuk Media weet toe ons die afgelope Donderdag daar besoek afgelê het. “Om eerlik te wees weet ek nou regtig nie,” sê sy, “maar elke maand moet ek maar so van my man se geld aftrek om mense te betaal om die plek te herstel waar ek nou sien dis nie reg vir my nie.”
  • Haar hulp kom van een ander opvoeder, twee ouers wat as vrywilligers optree en twee ECD-studente. En daarmee saam: “Ek is dankbaar vir die Here vir ’n man wat ek het wat my so wonderlik help met alles – en ook vir die gemeenskapsleier mnr. Philip Seroux, wat die Here ook op my pad gestuur het.”
Mev. Fredericka Plaatjies, eienaar van Klein Kaboutertjies-kleuterskool in die plakkerskamp van De Rust, buite Oudtshoorn. Foto: Heindrich Wyngaard

Die behoefte is groot: Waar mev. Plaatjies sewe maande gelede met sowat tien kinders begin het, staan die getal “klein kaboutertjies” nou op 45 – en die aanvraag groei, vertel sy.

  • Maar die inkomste is pynlik power: “Die meeste van die kinders kom uit verskriklike moeilike omstandighede. Meeste van die ouers leef van die AllPay [maatskaplike toelae] en seisoen-werke wat net Desember-maand plaasvind.” Mev. Plaatjies kla nie. Haar ingesteldheid is om te help. Dit is hoekom sy nie inskrywingsfooie vra nie – en slegs R30 per kind per maand, wat ook nie eintlik inkom nie. “Sommige ouers voel sommer as hulle nie betaal het nie dan hou hulle die kinders by die huis,” sê sy – en dit wil sy nie hê nie.
  • Haar agtergrond speel ’n rol in haar goedhartigheid: “Ek het in ’n huis groot geraak met drie broers, my ma en my ouma.” Ouma moes na hulle omsien omdat hulle ma in die Kaap vir hulle gaan werk het, maar later moes klein Fredericka self die huis in stand hou, skool loop en haar ouma versorg. “My ma het ook later landerywerk kom doen om aan ons te kyk en met die hulp van die Here kan sy haar drie kinders deur matriek gedra het.”

Mondstuk Media vra haar, soos wat ons gereeld vir die kategorie Geld & Welvaart doen, wat haar verhouding met geld is. Haar antwoord behoort gerusstellend te wees vir “Klein Kaboutertjies” se ouers en ook mense en instansies wat vir mev. Plaatjies wil ondersteun. “Ek werk baie spagsamig met geld, want ek het nie altyd geld van my eie nie – so ek sal altyd mooi met geld werk om elke dag ’n stukkie te het.”

Wat is haar motto? “Om ’n goeie en ’n mooi skooltjie te bou vir ons plakkerskamp-gemeenskap en om die kinders ’n goeie en suksesvolle toekoms te gee – met die hulp van die Here.”

Klein Kaboutertjies se gelukbringer. Foto: Heindrich Wyngaard