Donald Trump word met Jesus vergelyk. Wat het dit met Nelson Mandela en met Gayton Mckenzie te doen?

Die omstredenheid wat losgebars het nadat ’n Wit Huis-adviseur pres. Donald Trump met Jesus vergelyk het, hou ook vir Suid-Afrika ’n les in. (Foto: www.whitehouse.gov)

Waarom? Die manier hoe Gayton Mckenzie se ondersteuners in die Patriotic Alliance hom soms teen kritiek verdedig, toon dieselfde neigings, skryf HEINDRICH WYNGAARD.

6.04.2026 | STANDPUNTE: Die storm rondom die vergelyking wat Paula White-Cain, hoof van die Wit Huis se Geloofskantoor, tussen die lyding van Jesus en pres. Donald Trump getref het, laat ’n mens terugdink aan oudpres. Nelson Mandela. Maar om presies die teenoorgestelde rede. Me. White-Cain het by ’n Paasfees-middagete in die Wit Huis aan pres. Trump gesê: “You were betrayed and arrested and falsely accused.”

  • Verraai, in hegtenis geneem en valslik beskuldig: Skuus, julle, maar hoekom klink dit dan so asof dit Jacob Zuma se mense is wat hier praat oor sy Julie 2021-ervaring?
  • Maar, kyk né, selfs die Zumaïete het nie so ver gegaan soos hierdie Trump-adviseur nie: “Sir,” sê sy Woensdag vir pres. Trump by daai Paasfees-middagete, “because of His resurrection, you rose up.”
  • Staande ovasie.

Niemand tevore en niemand hierna: Nou weet ons mos dat pres. Trump floreer op komplimente, verdiend of onverdiend, wat ander aan hom uitdeel of wat hy vir homself opeis – en alles wat hy doen, laat ons nie vergeet nie, word vir die eerste keer ooit deur ’n Amerikaanse president in die ganse 250-jarige onafhanklikheidsbestaan van die land gedoen, of is die beste wat dit al ooit gedoen is; en die idee dat enigiemand óóit daarop sal kan verbeter, is absoluut, onteenseglik verregaande.

  • In hierdie trant bereik me. White-Cain die kruin van Kilimandjaro (in Swahili die “berg van grootheid”): “We are thankful for the greatest champion of faith that we’ve ever seen in a President,” sê sy.
  • Nóg ’n applous volg daarop.

‘Never, and never again …’: Madiba was in vele opsigte ’n uitsondering – nie net as Suid-Afrika se eerste demokraties-verkose president nie, maar spesifiek ook ten opsigte van sy vergewensgesindheid teenoor ander. Dit is deels waarom hy deur sommige mense opgehemel is as ’n soort “Messias”.

  • Maar Madiba het nie, soos hulle sê, gestaan vir daai nie.
  • Gedurende ’n toespraak in Oktober 1999 by die Baker-instituut aan die Rice-universiteit in Amerika het hy dit baie duidelik gesê:

“I never wanted to be regarded as an angel. I am an ordinary human being with weaknesses, some of them fundamental; and I have made many mistakes in my life. I am not a saint, unless you think of a saint as a sinner who keeps on trying.”

Madiba het selfs die mense vergewe wat hom vir byna drie dekades agter tralies gehou het as straf vir sy deelname aan die stryd vir bevryding vir die meerderheid inwoners van die land. Toe ander ná syh vrylating daarop aandring dat hulle in die see gejaag moet word, het hy voorspraak gemaak vir die behoud van ’n kulturele simbool wat vir die voormalige verdrukker “heilig” is, naamlik die Springbok-embleem. Nou was hy vir sommige – aan die voormalige onderdrukte kant – ’n verraaier wat gekruisig moes word.

En die mense het ook teenoor Jesus uitgeroep: “Kruisig hom! Kruisig hom!” Niks daarvan sou ooit oor Madiba se lippe teenoor ander kom nie. Aan die ander kant moedig pres. Trump egter gereeld sy volgelinge aan om ander, wat met hom verskil, te kanselleer. Ook vanuit die PA, wanneer kritiek teen die “Prez” uitgespreek word, hoor jy die Mckenzie-massakoor luidkeels die opsweep-kreet uiter: “Moer hulle!”

  • Soos pres. Trump gesit en niks sê het toe me. White-Cain hom tot ’n Jesus-figuur verhef het nie, sê mnr. Mckenzie ook niks oor die soms vieslike aanvalle deur sy ondersteuners op sy kritici nie.
  • Waar Mckenzie wel – soort van – aansluiting vind by Madiba se leierskapstyl, is hoedat hy in die bresse tree vir “patriots” wat foute maak of gemaak het of oor wie daar ’n vraagteken hang: Chinelle Stevens, sekretaris-generaal, kan nie pa staan vir haar pa se (beweerde) bende- en dwelmdade nie, sê hy onlangs.

In die gees van die Pase, nadat die kerrievis en paasbolletjies geniet is, moet ons almal strewe om Jesus se voorbeeld van omgee vir ander na te volg; en die ander wang draai; en tot op die misdadiger in ons midde vergewe. Maar ons behoort nóóit vir ander mense – presidente of partyleiers – die soort aanhang te ontwikkel wat ons blind maak vir hul eie menslike feilbaarheid nie. Of dit nou Trump, Mckenzie of Madiba is.

  • Heindrich Wyngaard is Mondstuk Media se stigter en inhoudshoof. Hy is ook die uitvoerende voorsitter van die burgerregte-organisasie Kaapse Forum.

 

Leave a Reply