Die San se stem was deel van 2026 se Staatsrede. Hoekom spring sommige van ons nie uit ons vel daaroor nie?
Uit die Oos-Kaap tot die Wes-Kaap is die San-pryssanger Rina Reen van Kimberley se deelname aan vanjaar se Staatsrede-geleentheid geloof.
Op ’n ander noot: Gegee die lot van Khoi- en San-mense in ons land, is daar weinig rede om die President se lof te besing, meen dr. Willa Boezak.
16.02.2026 | NUUSMAKERS: Dit was slegs die tweede keer sedert 1994 dat ’n pryssanger (“imbongi”) uit die Khoi- en San-gemeenskappe gebruik is om voor die President se lewering van sy Staatsrede op te tree.
- In 2019 was dit Bradley van Sitters, ’n bekende Khoisan-taalkenner; vanjaar was dit die jong dame Rina Reen – en in albei gevalle was pres. Cyril Ramaphosa die staatshoof.
- Die pryslied wat vooraf uitgevoer word, is bedoel om die president lof toe te swaai, sterkte toe te wens en voorspoed toe te bid vir sy take.
- Van Sitters is destyds wyd geloof, maar ook deur twee oorspronklike Khoekhoegowab-sprekers daarvan beskuldig dat sy voordrag taalkundig nie heeltemal akkuraat was nie. Hulle is Lammie !Haoseb en Willem Damarah. Nou is daar ook uiteenlopende menings oor Ria Reen se deelname.
Reaksie op Ria: Glen Snyman, leier van die Oudtshoorn-Khoi gemeenskap was verjeug oor Rina se teenwoordigheid en optrede. “Om die Khoi-taal te praat is in die verlede as skandelik en neerhalend afgemaak. Mense is ook verbied om dit te praat,” sê hy.
- Dit skeel hom min dat nie almal kon verstaan wat sy sê nie.
- “Wanneer sprekers van ander plaaslike tale die pryssanger was, in Xhosa en Zoeloe, byvoorbeeld, kon almal hulle ook nie verstaan nie,” verduidelik hy. “Die feit dat ons hier is en die taal gepraat is en ge-represent is, dit maak dit mooi. Dit is waarna ons moet kyk.”
Uit die Oos-Kaap: Ook die Khoisan-aktivis Christian Martin het positief op Rina se deelname aan die SONA-verrigtinge gereageer.
- “Dit was en is inderdaad ’n groot oomblik vir die Khoi- en San-nasie,” sê hy uit die Baai. “Netwerke het gegons soos ons mekaar ingelig het om SONA te kyk [verlede Donderdagaand].”
- Martin het as voorsitter van die Oos-Kaap se Plekname-komitee ’n sentrale rol gespeel om die PE-lughawe na die Khoisan-hoofman Dawid Stuurman te laat hernoem.
- Soos die hernoeming, was Rina se SONA-verskyning vir hom en ander ’n “blye emosionele oomblik” en haar gebruik van die Qunta-San-taal “die restourering en opheffing van ’n eeue oue taal”.
’n Kritiese teenstem: Die Khoisan-navorser en teoloog dr. Willa Boezak sê: Die politieke konteks het verander sedert Van Sitters sy pryslied aan pres. Ramaphosa gelewer het.
- “Nou is daar nie ’n manier dat ’n Khoisan-persoon vir ’n Cyril Ramaphosa kan prys nie. Dit het my diep seergemaak dat onse mense so dom kan wees,” sê hy. “Ek meen hoe sal dit klink as ’n pryssanger ’n diktator of enigiemand anders in daai lyn in of ’n korrupte persoon lóóf? So, dit is vir my heeltemal onaanvaarbaar en dit het my eintlik maar geskok.”
Kliek hier om meer te lees oor Ria op Independent Online.
