Die grootste les in finansies: ‘Respekteer geld,’ sê oom Syd, die ewige entrepreneur

Oorspronklik van Heidelberg (Kaap), maar nou lankal ’n Caledonner, het die man bekend as “Oom Syd” vele ysters in die vuur: eers net bestuurskool-eienaar, nou ook fotograaf, aanbieder van rugbyprogramme op Facebook en Youtube; en heeltyd bly hy op die uitkyk vir nuwe geleenthede. Hier maak hy sy kos-trok staan; daar verkoop hy vars groente, vrugte of vis. 

Waarom moet jy hiervan kennis neem? ’n Mens kan sekerlik by hom leer oor die lesse en die foute wat hyself al ervaar het in die hantering van sy geldsake en die bestuur van sy besighede.

Oorspronklik van Heidelberg (Kaap), maar nou lankal ’n Caledonner, het die man bekend as “Oom Syd” vele ysters in die vuur: eers net bestuurskool-eienaar (Sydney’s Bestuurskool), nou ook fotograaf (Oom Syd Photography, wat vir ons foto’s van Errol en Sidney Tobias in hierdie uitgawe geneem het), aanbieder van rugbyprogramme op Facebook en Youtube (“Stoom Saam Oom Syd”; en “Skuins voor Afskop”); en heeltyd bly hy op die uitkyk vir nuwe geleenthede. Hier maak hy sy kos-trok staan; daar verkoop hy vars groente, vrugte of vis.

Waarom moet jy hiervan kennis neem? ’n Mens kan sekerlik by mnr. Sydney Armoed leer oor die lesse en die foute wat hyself al ervaar het in die hantering van sy geldsake en die bestuur van sy besighede.

Hoe beskryf hy sy verhouding met geld? Jy moet respek het vir geld; indien nie, gly dit soos water deur jou vingers. Maak seker dat geld nie jou besit nie, anders gestel – geld moet nie jou lewe beheer nie.

Wat was sy eerste salaris? In 1996 het ek begin werk by ’n steenmakery op Heidelberg in die Suid–Kaap, wat ook my komvandaan is. Hier het ek begin met R35 per week. My eerste ervaring met my eie geld was egter toe ek begin het om golfsak te dra op 12-jarige ouderdom. Betaling was R1, soms R1.50 vir 18 putjies en dan moes jy eers by Mamma ’n draai maak voor jy hiervan ’n aalmoes kry.

Wat is vir hom die verskil tussen vir ’n salaris werk en jou eie baas wees? Wanneer jy jou eie baas is, is daar nie ’n begin- en stoptyd nie. Daar is nie so iets soos “beplande” afsiek-dae, soos jy dikwels hoor by van die werkers nie (“Ek gaan môre afsiek boek.”). Wanneer werkers rustig slaap en soms ’n bier en wyntjie geniet, is jy as eienaar besig met beplanning of self aan die werk, dag en nag.

Watter vereistes stel dit aan hom wanneer dit by die hantering van sy geldsake kom? Jy moet absoluut gedissiplineerd wees. Draai daai sente twee keer om. Hou jou skuldeisers gelukkig deur op tyd jou skuld te betaal.

Verkies hy om die bank se geld te gebruik of uit sy eie sak te betaal vir iets? Ek verkies om met my eie kalwers te ploeg. Wanneer daar egter geleenthede kom waar ek die bank se geld optimaal kan gebruik doen ek dit graag. Soos reeds genoem: Wanneer daardie bank skuld ’n gesonde lening word en die projek vir hom self kan betaal.

Wat leer hy sy kinders oor hoe om met geld te werk? Net een ding. Het respek vir geld. Bly nederig en help daar waar jy kan, sonder dat die hele werêld daarvan weet.

  • Mnr. Armoed kan gekontak word by 082 339 9935 of oomsyd2@gmail.com