Die dood van twaalf kinders in ’n ongeluk in Vanderbijlpark, moet skole en ouers laat regop sit. Hier is drie voorstelle

Ouers en skole moet ernstig(er) aandag gee aan die soort voertuie waarmee leerders vervoer word en ook die gedrag van die bestuurders, sê dr. SEYMOUR BOTHMAN.

Waarom is dit belangrik? Ons paaie het slagvelde geword en kinders, op pad skool of huis toe, is toenemend slagoffers.

26.01.2026 | STANDPUNTE: Die tragiese ongeluk waar twaalf leerders in Vanderbjilpark gesterf het, het my laat wonder: Hoe lank nog gaan die slagting van onskuldige lewens voortduur as gevolg van wetteloosheid, onpadwaardigheid van voertuie en die onverskillige gedrag van sommige motorbestuurders?

Op die langpad: Jaarliks vat ek en my vrou die N1 uit Gauteng na die Wes-Kaap om by familie en vriende te gaan kuier. Ons sien gewoonlik uit na ons reis, maar dit is verstommend om waar te neem dat sommige motorbestuurders al hoe meer onverskillig bestuur.

  • Dit is nie meer ’n uitsondering nie, maar ’n algemene verskynsel.

Gedurende die vakansie was ek talle kere geforseer om in die geelstrook te ry, want van die onverskillige bestuurders kom met dolle vaart verby vragmotors, wys ligte vir die aankomende verkeer en ignoreer sperstrepe. Met ons terugkeer na Gauteng het ons met die N9 gereis, maar dieselfde gedragspatrone het voorgekom.

  • As ’n wetgehoorsame burger besef ek dat die nasionale-, provinsiale- en munisipale paaie, niks anders as slagvelde geword het.

‘Niemand meer sonder sonde nie’: Dit kom voor dat die meeste taxibestuurders nie omgee om die padreëls te oortree nie, maar taxibestuurders is nie die enigste sondebokke nie. In dieselfde week was daar ’n ongeluk te Soebatsfontein, waar leerders ook betrokke was; en Donderdag het ek verneem van ’n busongeluk (109 leerders) wat in Limpopo plaasgevind het. Daar is ’n geneigdheid dat daar eers iets verskriklik moet gebeur voordat iets daadwerklik gedoen word.

Elke oggend is daar talle taxi’s, bakkies en ander voertuie wat nie padwaardig is nie, maar hulle vervoer passasiers na werkplekke of na skole. Die bestuurders van daardie voertuie gaan elke dag ongestoord voort omdat daar geen gevolge is nie. Ons kruisig een bestuurder (tereg), maar daar is vele ander wat dieselfde oortredings pleeg. Indien daar nie deurlopende wetstoepassings is nie, gaan die situasie voortduur en vererger.

Die groot vraag: Wie is verantwoordelik vir die veilige vervoer van leerders? Voeg daarby:

  • Wag ons eers dat iets gebeur en dan tree ons op?
  • ’n Laat-my-loop-houding gaan ons nie ver bring nie.
  • Waarom sal daar nie aanvaar word dat almal dit mag doen as een verkeerd doen nie?

Die weg vorentoe: Wat staan ons as wetsgehoorsame burgers en as skoolgemeenskappe te doen?

EERSTENS moet ouers verseker dat hulle kinders in voertuie vervoer word wat padwaardig is; let op die aantal leerders wat daarmee gaan reis; en dat die vervoermaatskappye of persone oor al die nodige wetlike dokumentasie beskik.

TWEEDENS moet die skool oor die inligting beskik watter vervoermaatskappy of persone leerders na en van die skool vervoer. Hierdie inligting kan deur die onderwysdistrikkantore versamel word via die skool se databasis en daar behoort van tyd tot tyd deur distriksamptenare evaluerings gedoen te word, veral ten opsigte van oorbelading.

DERDENS is dit belangrik dat daar deurlopende wetstoepassing moet wees om te verseker dat alle padgebruikers se lewens in ag neem behoort te word. Wetstoepassing kan nie gebeur as daar skielik ’n tragiese ongeluk is nie. Oorbelading van voertuie is nie iets wat slegs in 2026 kop uitgesteek het nie, maar vir ’n geruime tyd aankom. Die aangewese wetstoepassers moet toesien dat die voertuie wat oorlaai is, daagliks voorgekeer moet word en dat daar gevolge vir die oortreding moet wees. Dieselfde moet ook geld vir onverskillige bestuur, want dit kom voor dat dit deel van ’n subkultuur geword het.

My pleidooi: Kom ons sit skouer aan die wiel om te verseker dat leerders veilig by hul skole opdaag. Ons kinders verdien dit.

  • Dr. Seymour Bothman is ’n dosent aan Unisa.

 

Leave a Reply