Diana Ferrus: ’n Goue draad van woorde en aksie. Nóg ’n huldeblyk vir die digter wat gestry het vir maatskaplike geregtigheid

SEYMOUR BOTHMAN skryf dat die middelpuntvliedende tema in die huldeblyke vir die ontslape Diana Ferrus is “dat sy haar ten beste uitgeleef het om die breë Suid-Afrikaanse gemeenskap en veral die Afrikaanse taalgemeenskap met haar Godgegewe talente te dien”.

Wat is die breër betekenis hiervan? Sy het haar mense se komvandaan vooropgestel.

9.02.2026 | KULTUUR: Grotendeels het die Afrikaanse letterkunde vir ’n lang periode die stemme van wit skrywers na die sentrum gebring en die geluide uit die bruin Afrikaanse gemeenskap geïgnoreer. Hier dink ons aan skrywers, soos Adam Small, P.J. Philander, S.V. Petersen, Floris Brown, Diana Ferrus, E.K.M. Dido en Abraham Phillips.

Gedurende die era van 1976 tot 1990 het die skrywers gedebuteer met hul literêre werke en geskryf oor wat hulle waarneem wat in die onderdrukte gemeenskappe plaasgevind het. Die stryd oor marginalisering, verset, ekonomiese uitbuiting, politieke miskenning, godsdiens en onderdrukking van vroue word deur hul kunswerke uitgebeeld.

Diana het al vanaf veertienjarige ouderdom begin skryf en haar digkuns  het gefokus op haar lewe, politiek, sosiaal en historiese temas:

  • Haar enigmatiese gedig oor Saartjie (Sarah) Baartman het tot grondverskuiwende verandering gelei, en daartoe bygedra dat sy deel van ’n groep was wat die menslike oorblyfsels van Saartjie terug na Suid-Afrika gebring het.
  • Sarah Baartman se oorblyfsel was op 9 Augustus 2002 (Vrouedag in Suid-Afrika) ter geruste gelê.

Haar ander bekende gedig, “My naam is Februarie”, gaan oor die mense van Mosambiek wat onder slawerny gebuk gegaan het. Die gedig dien as die vrymaak vir diegene wie se voorouers aan die wrede koloniale dwingelandy blootgestel is. Deur haar betrokkenheid by verskillende skrywersgroepe was dit haar doel om diegene wat altyd uitgesluit is na die hoofstroom te bring.

Verder was dit ook haar lewenstaak om die stigma van Afrikaans as die taal van slegs onderdrukker te verander en dat Afrikaans ook as die taal van bevryding en versoening beskou moet word. Daardeur het sy die tapisserie van Afrikaans omhels. Dit word duidelik uitgebeeld in haar gedig: “Afrikaans, ’n versoeningstaal”:

Dit is, het hulle gesê

Die taal van die onderdrukker.

Dit kom, het hulle gesê…

Maar uit die buik van slawe, Europees, inheemse volke…

Aan die geveg oor identiteit het sy geen erg

In Afrika Renaissance vind sy haar weg.

Al het ek haar nie persoonlik ontmoet nie, het ons mekaar op die sosiale media-platforms leer ken. Ons het altyd gesels oor sport – sy was ’n stoere ondersteuner van al die Suid-Afrikaanse sportspanne. En dan is daar haar musieksmaak soos wat ek uitgevind het een oggend toe ek na Sade op RSG geluister het. Sy was in vervoering toe ek op Facebook kommentaar oor die musiek van Sade gelewer het.

Die goue draad van woorde en aksie wat deur die Ferrus-familie loop, het begin met my kennisname van oorlede Hennie Ferrus op Worcester. Wanneer ek haar hoor optree het, het ek verstaan waar daardie onwrikbare geloof vandaan kom om te stry vir maatskaplike regverdigheid: Dit is deel van haar mense se komvandaan.

Stil, broers en susters, daar gaan ’n mensch verby.

  • Dr. Seymour Bothman is ’n dosent aan Unisa.
Leave a Reply